CJ LANGENHOVEN het eenmaal gesê: “Om te lewe is ’n kuns”.
By die Hoërskool Cradock is hierdie woorde sigbaar in hul leerders se alledaagse take. Die personeel en leerders van hierdie Karoo-skool streef elke dag daarna om die balans tussen die akademiese, sportiewe asook die kulturele aktiwiteite, waarmee die leerders daagliks besig is, te handhaaf.
Die skeppende kunste klas bied aan leerders die geleentheid om uiting aan hul kreatiewe denke te gee. Sommige leerders maak hier vir die eerste maal kennis met hul kunstige sy.
Die gr. 8-leerders van CHS het die afgelope tydperk hul handewerk op papier uitgebeeld en elk hul eie interpretasie van hande geteken. Die resultaat was asemrowend.
Dit is egter nie nét huidige leerders van CHS wat pragtige kunswerke oplewer nie. Salene Bekker, matrikulant van 2017, het onlangs haar eie kunswerk opgelewer wat maklik deur Jan Alleman verwar kan word met die ware Jakob.
Salene, ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch, het as deel van die Drama-departement se tegniese kurrikulum ’n pragtige Trechikov opgelewer.