Hofmeyr betreur heengaan van Martie

DIE Hofmeyr-gemeenskap was geskok om te verneem van die dood van een van hul geliefde inwoners.


DIE Hofmeyr-gemeenskap was geskok om te verneem van die dood van een van hul geliefde inwoners.

Martie du Plessis is in haar slaap op 4 September in die ouderdom van 58 jaar oorlede. Sy was ook wyd bekend in Cradock, waar sy dikwels inkopies gedoen het, en haar kleindogter Zaylene is ook daar op skool.

Martie is op 4 April 1960 gebore as ’n laatlamdogter van haar ouers, Paul en Linie Venter. Sy het haar hele skoolloopbaan op Hofmeyr voltooi, waarna sy by die destydse tak van Standard Bank gewerk het.

Sy is met Johan du Plessis getroud en hulle het op die plaas Bloemhof gewoon.

Twee kinders is uit die huwelik gebore. Lindi is nou getroud met De Wit Stegmann en hulle woon in die Paarl, terwyl Stefan met Amanda getroud is en hulle woon in Somerset-Oos waar hy by die OVK betrokke is.

Martie het baie harte en huise aangeraak omdat sy ’n vrygewige oop hand gehad het, en graag van hulp wou wees waar sy die geleentheid raakgesien het.

Sy het ook met groot deernis en sorg omgesien na senior burgers en siekes in die gemeenskap, en dit was nooit vir haar te veel moeite om ’n warm bord kos by ’n huis te gaan aflewer nie.

Benewens haar man en kinders, laat sy ook haar suster Anita (Hough) asook haar kleinkinders, Zaylene en Leané du Plessis, en Talita en Hendri Stegmann agter.

You need to be Logged In to leave a comment.