DIE gemeenskap van Hofmeyr in die Oos-Kaap spog nou met hul eie Helpende Hand-tak om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.
Marlene Basson, Helpende Hand se streeks-organiseerder van die Oos-Kaap, het gesê ’n groep vrywilligers het die Hofmeyr-tak op 22 Augustus op die been gebring.
Die tak word bedryf by Cradockstraat 2 waar lede van die gemeenskap enige skenkings kan aflewer.
“Die hart van ’n gemeenskap lê in sy mense. By Helpende Hand glo ons dat mense se harte ’n verskil deur hul hande in hul gemeenskap maak. Dit is die hoeksteen waarop Solidariteit Helpende Hand gebou is.
“Saam ontwikkel ons gemeenskappe en Helpende Hand is die bymekaarkomplek vir hande wat wil help,” het Basson gesê.
“Die gemeenskap van Hofmeyr is reeds nou betrokke by mekaar en gee om vir mekaar. Daar is ’n behoefte onder ons mense en alhoewel daar reeds instansies is wat diensbaar in die gemeenskap is, het ons gevoel Helpende Hand kan ’n struktuur en dienste bied wat nie noodwendig beskikbaar is in en om Hofmeyr nie.”
Teresa Opperman, hoof van die liefdadig-heidsorganisasie Hugs of Hope Hofmeyr, het gesê dié instansie sien daarna uit om saam met Helpende Hand te werk.
“Ons is reeds besig met werkskeppings- en uitreikprojekte in die gemeenskap en daarom sal ons graag ook hande wil vat met Helpende Hand en só baat vind by mekaar. Saam maak ons ’n verskil en skep ons hoop vir die toe-koms,” het Opperman gesê.
Enigiemand wat skenkings aan die Hofmeyr-tak wil maak, kan Estelle Kruger tydens kantoorure by 082 542 5270 bel. Stuur ’n SMS aan 34596 om lid van Helpende Hand te word. SMS’e kos R2.
Vir meer inligting oor dié Helpende Hand-tak, of enige tak in die Oos-Kaap, bel Basson by 083 501 3166 of stuur ’n e-pos aan marlene@helpendehand.co.za.