Vervolg vanaf bl.1
Volgens Brenda is dit duidelik dat hul ouers nie onmiddellik gesterf het tydens die aanval nie.
McPherson het ook vir ander inwoners op die dorp as tuinier gewerk. Herman Engelbrecht het gesê McPherson was ’n baie handige en flukse werker.
“Nadat ’n oud-polisievriend my gewaarsku het oor sy verlede het ek hom gekonfronteer en dit duidelik vir hom gesê dat ek nie moeilikheid sal vat nie,” het Engelbrecht gesê.
Volgens Engelbrecht was McPherson se antwoord toe “Nee oubie, ek is nou ’n kerkmens”.
Lynn Williams van Netwerk24 berig dat inwoners geruk is deur die “sinnelose moorde”.
’n Inwoner sê Elize het altyd alles wat sy gekry het, gedeel met haar medemens wat minder be-voorreg is.
“As sy ’n sakkie aartappels gehad het, het sy kleiner sakkies begin opmaak om dit te deel.
“Selfs al het sy ’n vleisie gehad, het sy dit uitgedeel,” het die steeds geskokte inwoner gesê.
Nog iets wat spreek van Elize se hulp aan minderbevoorregtes is dat sy die inhoud van haar persoonlike kaste in haar testament aan die welsynsinstansie Hofmeyr Hugs of Hope nagelaat het.
Die oorledenes is oorspronklik van Kempton Park aan die Oos-Rand. Hulle het vier jaar gelede na Hofmeyr verhuis.
Dit was die Smiths se droom om op Hofmeyr ’n versorgingsoord vir bejaardes te open. Victor het tydens sy aftrede steeds aanlyn pastorale werk gedoen.
Die egpaar se dogter, Marinda Merriweather, het van Pretoria na Hofmeyr gekom na sy die tyding ontvang het.
Sy het aan Mid-Karoo Express gesê dat ’n privaat verassing in Pretoria gehou sal word.