Hofmeyr hou suksesvolle Vee- en Veld Boererally

HOFMEYR Boerevereniging, onder die bekwame leiding van Ettienne Roux as voorsitter en Sanet Coetzer as sekretaresse, tesame met hul bestuur, het die afgelope week ’n uiters suksesvolle Vee- en Veld Boererally aangebied in die distrik.


HOFMEYR Boerevereniging, onder die bekwame leiding van Ettienne Roux as voorsitter en Sanet Coetzer as sekretaresse, tesame met hul bestuur, het die afgelope week ’n uiters suksesvolle Vee- en Veld Boererally aangebied in die distrik.

’n Groot aantal maatskappye het stalletjies beman en pryse geborg.

Altesame 17 spanne het vroegoggend by die sportklub aangemeld waar inskrywings gedoen en navigasie-inligting uitgedeel is. Elke span het uit twee lede bestaan – die bestuurder en die navigator.

Die spanne het met tussenposes van 15 minute vertrek. Daar was geen afsnytyd nie, omdat die spoed waarteen voertuie klaarmaak nie die wenner bepaal nie, maar wel die antwoorde op die vraestelle wat by elke punt ingevul word om die deelnemers se kennis te toets. Vir sommige boere was dit ook sommer ’n uitstappie waaraan die hele gesin kon deelneem.

Die roete het op die uiters swak Roete R391 begin, waar die eerste stop op Blomplaas van Danie en Jeannie du Pisani was. Hier moes die deel-nemers ’n aantal vrae rondom wolproduksie beantwoord.

By die tweede punt, op die plaas The Pines van Johan en Caria Froehlich, is die deelnemers se bestuursvernuf getoets, en dit het maar moeilik gegaan met sommige spanne. Die veemedisyne maatskappy Virbac het hier as borg opgetree en die vraestelle hanteer, en daar moes die boere ook skape klas. Die Landini Trekkermaatskappy het ook hier ’n stalletjie beman.

Die derde punt was by die plaas Rietfontein van Naas en Renel Vermaak waar hul seun Hennie en sy vrou Rachelle ook woon. Dis hier waar internasionale jagters elke jaar by die Rietfontein Lodge kom kuier, maar hierdie keer was daar geen kans vir kuier nie, want die boere se kennis van wild is getoets.

Die boere is hierna na Tweerivieren van Carl en Yolandé Froehlich. Hier is hul skiet- en jagvernuf getoets onder die bekwame oog van Willem en Susan Jordaan. Hul vraestel het die boere se kennis oor vuurwapenveiligheid en skietvernuf deeglik getoets.

Die volgende punt was op die plaas van Shaun en Nastasha Vermaak waar Janique Fourie met haar Lionel’s Choice produkte die stalletjie beman en die vraestel opgestel het. GWK het ook hier hul stalletjie en vraestel aangebied. By hierdie punt kon die deelnemers asem skep en ’n broodrolletjie geniet.

’n Volle 17,7 km van hierdie stop af, was die volgende stalletjie op die plaas van Michael en Lesley Lord. Die stalletjie was onder beheer van Zoetis.

Die Voorsitter van die Boerevereniging, Ettienne Roux, se plaas was die volgende besoekpunt. In die pragtige tuin op Allemansvlei het twee punte op die deelnemers gewag. Eerstens is hul kennis van Grasse en Bossies getoets en tweedens was daar ’n stalletjie wat deur Border Seeds beman was.

Nie te ver van Allemansvlei nie, is die plaas Alicedale van David en Lynette Lord, waar Oscar en Caitlyn Lord ook woon. Intervet het hier hul stalletjie beman en die deelnemers moes dorpers se gewigte skat.

Voorts het die roete deurgeloop na Elands-kuil van Gerhard en Anne Bekker. Hier is die stalletjie beman deur Aloe Oil Diesel & Lubricants en daar was ook ’n paar vrae wat die deelnemers laat kopkrap het.

Vanaf Elandskuil het die roete teruggeloop na die Steynsburg teerpad, en daar langs die pad , by die spilpuntlande van Deon, Bennie en Nielbert Lategan, moes die voertuie stop om ’n paar vrae te beantwoord wat deur Agrico en Rikus Landboudienste aan hulle gestel is. Hul kennis oor spilpunte is hier deeglik getoets en ook die produkte wat met gewasprodusering gebruik word, was op die vraestel.

Die volgende stop was op die plaas Tafelkop van Gerald en Karen Fletcher. Hier was ’n aantal Brangusbeeste te siene wat beoordeel moes word en in posisies een tot vyf geplaas moes word.

John Deere het ook hier ’n stalletjie beman, maar daar was nie tyd vir lekker kyk na al die mooi nuwe trekkers nie, want die vrae moes blitsig beantwoord word.

Die laaste stop vir die moeë deelnemers was weer terug by die Sportklub waar Loerien Jordaan van die plaaslike Oos-Vrystaat Kaap Koöperasie haar stalletjie beman het. Sy was baie beïndruk met die deelnemers se kennis oor OVK-aangeleenthede, want al die deelnemers het hier volpunte behaal.

Die laaste voertuig het om 19:45 opgedaag, en daarna is punte gefinaliseer en wenners aangekondig.

Elke stalletjie het hul wenners identifiseer as ’n eerste, tweede en derde plek en daarvolgens is pryse toegeken. Sommige spanne het redelik gereeld ’n prys gekry, en ander spanne is nooit eers gemeld nie.

Oom Tommie Roux (80) het saam met sy jongste seun, Ettienne, deelgeneem en het die algehele eerste plek ingepalm.

Die deelnemers het nog tot laatnag gekuier en die onderskeie vraestelle bespreek en antwoorde vergelyk.

You need to be Logged In to leave a comment.