Hofmeyr-kunstenaar spreek plaaslike VLV toe

RIA Jansen is een van Hofmeyr se kranige, kreatiewe jonger lede, onder 30.


RIA Jansen is een van Hofmeyr se kranige, kreatiewe jonger lede, onder 30.

Sy het by die afgelope VLV-vergadering ’n uitstalling van haar pragtige kunstige lintborduurwerkstukke kom uitstal en ook haar pad met borduurwerk met die lede gedeel.

Sy is vanaf gr. 6 tuis onderrig, en as deel daarvan moes hul ’n kreatiewe vak ook bemeester. Sy het kuns en borduurwerk aangepak.

Sy het by ’n dame in Despatch klas geloop wat haar alles geleer het wat nodig was om haar vak te slaag.

Sedertdien woon sy ook een maal per maand ’n byeenkoms van borduursters in Nieu-Bethesda by waar sy ook baie nuwe tegnieke leer.

Ria kom glad nie meer in borduurwinkels nie, en maak slegs gebruik van internetbestellings.

Op baie van haar naaldskilderye is daar vroue en vir hul hare maak sy gebruik van gekrulde pophare – dit het net soveel meer lewe, kleur en glans as borduurgare wat soms plat en leweloos vertoon.

In haar borduurkassie is daar ook krale, linte, sylinte en soms ook organzalint vir plekke waar breër lint benodig word. Traliewerk word gedoen deur groen drade te weef en dit met baie dun vislyn vas te heg.

Om enigiets wat opstaan – soos skoenlappers of bye – te doen, gebruik sy ’n gewone ronde, outydse borduurraampie.

Daarop word die vlerkies dan geteken, dit word met draad omgewerk en dan word die vlerkies deur die draad geweef en netjies uitgeknip. Dit staan ook as stumpwerk bekend.

Hierdie vlerkies word dan bo-op die borduurstuk vasgewerk waar nodig. Sy is ook baie lief vir goudwerk, en het ’n borduurstuk vertoon waarop daar ’n goue byekorf ingeborduur is.

Sy vertel dat sy ontspan terwyl sy borduur en dit voed haar emosioneel om te kan skep.

You need to be Logged In to leave a comment.