DIE afgelope Sondag was dit nagmaal in die Pienk Kerk op Hofmeyr, maar nie heeltemaal soos gewoonlik nie.
Ná afloop van die diens het die gemeenskap heerlik gesellig gaan saamkuier, maar dié slag nie oor ’n koppie tee en ’n soetkoekie nie. Nee . . . die Wilkens van Juriesbaken het ’n klomp aartappels geskenk en daar is saamgestaan deur verskeie vroue uit die dorp, waaronder Hanlie Barnard, Obré van Heerden, Hettie Hanker en Heillie Marais, om die aartappels op te dien. Saam met die gaar aartappels is ’n verskeidenheid souse en plaasbotter en geurmiddels be- dien.
Elkeen kon soveel aartappels eet as wat hy kon baasraak, en selfs die kleingoed het met ’n aartappel weggestap.
Die orige aartappels is geskenk aan persone in die dorp wat nie die ge-leentheid kon bywoon nie, en daar het selfs genoeg oorgebly sodat daar Woensdag by Hugs of Hope ook aartappels bedien kon word.
Juriesbaken-boerdery is ’n groot instansie wat werkskepping aanbetref, en terwyl dit aartappel-oestyd is, ry vragte werkers daagliks daarheen om te gaan help met insameling van die oes.