DIE NG Gemeente van Hofmeyr het onlangs ’n potjiekoskompetisie by die Bamboes-gasteplaas gehou as deel van die jaarlikse bergfiets-uitdaging.
Die geleentheid is goed ondersteun en talle interessante potjies het die dag geprut. Heilie Marais en Louise Lotter het as beoordelaars opgetree. Die potjie-pryswenners van die dag was as volg:
Eerste prys gaan aan Matt en Hannatjie Philps met hul afvalpotjie. Die tweede plek word behaal deur die skaappotjie van Albert en Poppie van Heerden en Faan en Sanet Coetzer. Die beesstertpotjie van Coleen Traut en Theo Smith het die derde posisie beklee.
Die toekenning vir die span met die beste gees het aan Roelf en Marietjie Steyn gegaan terwyl die beste tema vir die dag gewen is deur die Kavaliers, bestaande uit Albert en Poppie van Heerden saam met Faan en Sanet Coetzer.
Hofmeyr se gemeenskap het heerlik saam met die bergfiets-deelnemers gekuier en die geleentheid was ’n suksesvolle fondsinsameling van die NG kerk op Hofmeyr.
Borge wat die geleentheid moontlik gemaak het was Victoria Manor in Cradock, The Shed in Cradock, asook Debonairs en Steers van Cradock. – TERESA OPPERMAN

