DIE Hofmeyr VLV het tydens ’n onlangse vergadering hul nuwe bestuur vir 2019 verkies.
Annerine van der Merwe is tot voorsitter van Hofmeyr VLV-tak verkies. As vise-voorsitter sal Rika Pienaar diens doen. Isabel Wilken is verkies tot die leefstylportefeulje wat naaldwerk en kookkuns behels. Marguerite Hattingh bly aan as sameroepster van opvoeding en kultuur. Estelle Kruger bly aan as sekretaresse van die tak.
Thea Dorfling is verkies tot hulp-sekretaresse, terwyl Alicia Jansen voortaan as tesourier sal optree. Anneke Wilken bly aan as sameroepster van kuns en Mariaan Schoeman is die nuutverkose sameroepster van openbare sake.
By dié geleentheid het die VLV-tak hul vergaderings vir 2018 afgesluit met die jaarlikse prysuitdeling waar deelnemers aan die kompetisies beloon word.
Anneke Wilken het die toekenning vir kuns ontvang, Annerine van der Merwe het die meeste punte behaal vir kookkuns-inskrywings, Isabel Wilken het die trofee vir naaldwerk ontvang en Dadda de Jager vir borduurwerk en hekelwerk.
Die wenner van die trofee vir VLV Vrou van die Jaar 2018, is vanjaar aan Rosalie Manley toegeken wat met haar 45 jaar as lid van Hofmeyr VLV nooit ’n enkele geleentheid laat verbygaan om foto’s van gebeure by die VLV-vergaderings te neem nie.
Sy het ook rekord gehou van elke berig wat geplaas is in nuusblaaie en in die VLV se mondstuk, die Huis en Haard.
Tydens die vergadering het lede ook geleer om Batik te doen nadat Isabel Wilken deur haar skoondogter, Anneke Wilken, gevra is om ’n demonstrasie te doen.
Die proses bekend as Batik is wanneer daar patrone met warm was op suiwer katoenmateriaal geteken word. Sodra die was afgekoel en verhard het, word die materiaal dan in ’n kleurstof gedoop. Daarna word dit droog en dan word die Batik afgekraak. Laastens word die patroon dan in die materiaal ingestryk.