Hofmeyr VLV maak skoonskip by konferensie

DIE 84ste Sirkelkonferensie van die VLV Sirkel Cradock is verlede week in Somerset-Oos gehou.


DIE 84ste Sirkelkonferensie van die VLV Sirkel Cradock is verlede week in Somerset-Oos gehou.

Die geleentheid het by die Victory Family Church-kompleks op die dorp plaasgevind. VLV Pearston het onder leierskap van Jos Troskie en haar span die jaar se konferensie gereël.

Afgevaardigdes vanuit die ses takke wat deel vorm van Sirkel Cradock, het die ge- leentheid bygewoon.

Rika Pienaar, president van Sirkel Cradock, het tydens haar presidentsrede rondom die VLV-tema “Môre begin vandag” gevra dat VLV-lede wyer moet kyk. “Stel vir jouself doelwitte en visualiseer dit. Vandag se boustene is môre se grondslag, vandag se keuses sal môre se rentes betaal.

“Gister se môre is vandag, en môre begin vandag.”

Annelie Botes het as openingspreker opgetree en het haar weergawe van “Die Kuns van die Liefde” weergegee. “Die kuns van die liefde is ’n spel. Lag en geniet die lewe. As dit nodig is vir jou om te huil, huil dan. Wees net jouself. Jy het nie nodig om iemand anders te wees nie.”

Ds. Strauss Joubert het met skriflesing en gebed geopen en sy boodskap het die feit be-klemtoon dat jy moet uitleef wie en wat jy is. “Seën ook ander soos wat jy geseën word.”

Adjudant-offisier Bollie van Huyssteen het landelike veiligheid met die afgevaardigdes kom bespreek. Hy het oor plaasveiligheid gepraat asook oor die voorkoms van seinblokkers wat wederregtelik gebruik word. Wenke vir die veilige gebruik van vuurwapens is ook bespreek.

Pastoor Hennie Liebenberg het die VLV-dames meer vertel oor hoe om hul gesinne te koester. “God plaas ons in families. Dra dus Goddelike waardes oor aan jou gesin. Behou jou waardesisteem. Leer uit jou foute en beweeg aan. ‘The weak seeks revenge, whilst the strong forgives’,” het hy gesê.

“Maak gesinne groot wat geleenthede raaksien. Moenie vir ure sit en planne maak nie, bid liewer vir ure en laat God die planne vir jou gee.”

Lisa Troskie, Dougie Argyle en Gideon de Klerk het met hul blaasinstrumente ’n paar nommers en ook ’n geestelike boodskap gelewer.

Judith du Randt, bekende spreekster vanaf Pearston, het “die vrou se pligte as landbouvennoot” op ligter noot weergegee. “Dit neem ’n spesiale vrou om ’n boer se vrou te wees. Sy het die plig om haar boereman op ’n pad te vergesel. Boere se vroue moet by hul mans staan en bly. Hul het ’n reuse verantwoordelikheid.” Judith het voorts gevra: “Maak jy ’n tuiste? Staan jy agter jou man of jaag jy hom weg?”

Uitstekende wenke vir geestesgesondheid is deur Sanet Joubert, maatskaplike werkster van Somerset-Oos, gegee. Sy raai elkeen aan om met nuwe oë na die lewe te kyk en moenie vra “Why me?” nie; sê eerder “Try me!”.

Charlene Troskie van Yum-Yum Cupcakes het ’n praktiese demonstrasie gelewer. Sy het interessante wenke gegee om keurige en kleurvolle kolwyntjies en koeke te bak en te versier. Charlene is ’n bekende bakster in die Somerset-Oos-omgewing waar sy ook by WG Olivier Primêre-skool fasiliteer.

Tydens die prysuitdeling het Hofmeyr VLV as Tak-van-die-Jaar uit die stryd getree. Hierdie tak het 10 trofees ontvang vir konferensie-artikels wat ingeskryf is en tydens die konfe-rensie beoordeel is. Louretta Lotter van Willowmore het as hoofbeoordelaar opgetree, met Lisa Troskie as kunsbeoordelaar en Marina Marais het die woordkuns beoordeel. Lana Paulsen het die beoordeling van die fotografiese kuns waargeneem. Blommerangskikkings in die tema byderwets, is deur Alida Zwiegers beoordeel.

You need to be Logged In to leave a comment.