IN ysige koue weer het die Schoombee-rolbalklub die afgelope naweek hul jaarlikse wintersuitdaging gehou.
Rolbalspelers het van oraloor gereis om te kom deelneem, en altesaam 16 spanne het ingeskryf.
Warm etes is deurgaans in die klubhuis bedien deur die dames van Schoombee-klub.
Saans is daar rondom die kaggelvuur in die rolbalklubhuis gekuier en vroeg soggens het die rolbalspelers teen minus-grade begin om die ysige windjie te trotseer. Maar steeds is uitstekende rolbal gespeel.
Die span van Melanie Fourie, met Robert Lord, Eric Maskell en Avice Steenkamp het as wenners uit die stryd getree.
’n Span wat al die pad van KwaZulu-Natal af gereis het om aan die toernooi te kom deelneem, het in die tweede plek geëindig.
– TERESA OPPERMAN