WIE sou kon raai dat die Karoo kan spog met ’n hokkie-afrigter wat al selfs in Nederland ervaring as afrigter opgedoen het?
Ina Botha, ’n oud-leerling van die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet en steeds ’n boervrou van die omgewing, was self ’n provinsiale speler van binnenshuise en veldhokkie en het reeds 25-jaar ervaring as afrigter.
Vanjaar het sy die Karoo-hokkieskool gestig en hulle het nie klein in 2018 begin nie.
’n Entoesiastiese Botha het met Mid-Karoo Express gesels en gesê, “Die platteland bied nie altyd al die nodige ontwikkelingsgeleenthede vir ons junior spelers nie. Daarom bied die Karoo-hokkieskool op 13 en 14 Julie ’n afrigtingstoernooi aan waartydens hokkiespelers van alle ouderdomme (ook beginners) touwys in die nuutste tegnieke en spelpatrone gemaak sal word. Ons maak gebruik van die Astro-turf by Union High in Graaff-Reinet en enige belangstellende individue en skole kan aan hierdie toernooi deelneem.”
Groot opgewondenheid heers oor hierdie opleidingsgeleentheid in die Karoo wat deur twee nasionale en vyf provinsiale afrigters aagebied sal word.
Die koste is R550 per kind of afrigter.
Vir meer inligting kontak Ina by 082 822 5311.