Honger honde word hier versorg

HENDRIK Kiwido (38) van Twinsville in Hofmeyr bedryf vanuit sy eie beskeie erfie ’n honde-versorgingsoord wat alle verwagtings oortref.


HENDRIK Kiwido (38) van Twinsville in Hofmeyr bedryf vanuit sy eie beskeie erfie ’n honde-versorgingsoord wat alle verwagtings oortref.

Mid-Karoo Express is genooi om op ’n ysige Sondagoggend daar besoek af te lê, en dit was indrukwekkend om te sien dat al nege die honde van verskeie onseker bloedlyne, elk in hul eie silwerskoon hok gehuisves word, met genoeg vars drinkwater en ’n kombers.

Kos bestaan uit gekookte mieliepap waarby hondekosblokkies gevoeg word, sodat elke hond darem een keer op ’n dag ’n vol maag het.

Hendrik, oftelewel Mannetjie soos hy in die algemene omgewing bekend staan, het by Hofmeyr se plaaslike diereliefhebber, Linda Opperman aangeklop vir hulp toe daar van die honde siek word, en sy kon hom van hulp wees met medikasie wat sy weer bekom vanaf ’n veearts.

Sy poog ook om te sorg dat al die honde gesteriliseer word om te verhoed dat die probleem net vererger.

Hendrik is ’n stukwerker by die McCaine-aartappelstoor op Juriesbaken in die distrik, en kom saans tuis “saam met 7de Laan”, soos sy seun meedeel.

Hy vertel dat hy van kleintyd af al ’n besondere belangstelling in honde het en koester die herinnering aan sy eerste hond – ’n skaaphond – wat hy grootgemaak het.

Ongelukkig is dit algemene praktyk dat inwoners hondjies as toekomstige jaghonde inneem en grootmaak om dan Saterdae te gaan jag, maar dan kom hul agter dat daar werklik nie meer veel rondom die dorp te jag is nie, en die honde begin dan honger ly.

Hy tree op hierdie stadium in en onderhandel dan met die eienaars om dan die honde by hom te versorg, maar hul word nie weer teruggegee aan die oorspronlike eienaars nie. Dit is vir hom en sy seun Gift en eggenoot Suriya ’n roeping in die lewe om te sorg dat hul honde gelukkig is. Dit is ook duidelik dat die honde baie erg oor Mannetjie is, en vreemd genoeg word daar nie vir nietighede geblaf nie, en die honde veg ook nie onder mekaar nie.

Opperman vertel dat sy dikwels ook genader word vir die hulp met voeding van die diere. Die klompie honde gebruik vier 12,4kg sakke mieliemeel per maand en twee 8kg sakke hondepille vir die kleiner soorte. Vir die groter honde word twee 25kg sakke maandeliks gekoop.

Hendrik doen ook gereeld huisbesoek as enige berig ontvang word van honde wat nie versorg word nie, en hy skroom nie om dan die diere onmiddellik uit die eienaar se sorg te verwyder nie. Daar is onlangs ’n honger teef, Zena, by hom afgelaai en sy het vier hondjies gehad.

Op ’n vraag aan Hendrik wat sy grootste droom is, antwoord hy vol selfvertroue: “Ek droom daarvan om my eie SPCA met genoeg fondse te stig en te bedryf hier op Hofmeyr.”

You need to be Logged In to leave a comment.