Hou skeersels skoon, maan Wolkwekersvereniging

DIE besoedeling van wol deur veral vreemde voorwerpe soos baalwol, draad, sigaretstompies, hondehare en stukke lap, rig ernstige skade aan in die Suid-Afrikaanse wolbedryf.


DIE besoedeling van wol deur veral vreemde voorwerpe soos baalwol, draad, sigaretstompies, hondehare en stukke lap, rig ernstige skade aan in die Suid-Afrikaanse wolbedryf.

Volgens Guillau du Toit, voorsitter van die nasionale wolkwekersvereniging (NWKV), is dit dus in eie belang om Suid-Afrika se skeersel se naam te beskerm en daarvoor moet elke produsent, makelaar en koper verantwoordelikheid neem.

“Ek skryf die besoedeling van wol toe aan swak toesig en ongedissiplineerde klas-seerders.

“Verder is daar baie onkunde omdat mense nie inligtingsessies bywoon, of aan ’n produsenteorganisasie behoort waar hierdie kritieke sake bespreek word nie.

“Ongelukkig leer party mense eers as hulle die probleem aan hul eie sak voel. Ek dink egter die bewusmaking van die probleem dra by tot sukses.”

Dit is egter belangrik dat elke produsent homself sien as ’n klein ratjie in ’n groot wiel, aldus Du Toit.

“Die bedryf is groter as die individu. Dit verg spanwerk om van die groter prent ’n sukses te maak.

“Gelukkig is die verliese nie so groot aan die kant van produsente nie.

“Kopers kan wel groot eise van verwerkers kry.

“Ek glo egter dat vandat ons die afgelope twee jaar spesiale aandag aan die besoedeling van wol gee, die situasie besig is om te verbeter.

“Besoedeling deur polyprop materiaal is steeds die groot gevaar van vreemde voorwerpe wat in die wol kan beland met verpakking tydens klassering. Na my wete maak dit tans ongeveer 1,5 % van ons skeersel uit.

“Dit is wel onder die 1% by kommersiële boere. Groot probleme word egter steeds ondervind by deelbale waar verkeerde afskortings gebruik word.

“Die situasie word egter nou goed gemonitor en die bedryf werk saam om besoedelde wol te identifiseer en apart te verkoop,” volgens Du Toit.

Met ’n nuwe stelsel in plek kan geïdentifiseerde produsente beboet word teen ’n vasgestelde boete, soos deur Cape Wools ingestel. Besoedelde wol word ook na ’n latere veiling verskuif, gemerk as besoedel, met gevolglike laer pryse wat behaal word.

Volgens Juan Venter, ’n produksie-adviseur by die NWKV, is dit belangrik dat goeie bestuur in die skeerhuis toegepas word om te verhoed dat ongewenste voorwerpe in die wol beland.

“Dit maak nie saak hoe goed wol geklasseer is nie, as dit voorwerpe soos baaltou of stukke lap of enige van vele ander vreemde voorwerpe bevat, sal die koper baie minder betaal of weier om die wol te koop.

“Wolsakke moet ook voldoen aan die standaarde van die SA Wool Textile Council,” het Venter gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.