Almal het maar hul eie voorkeure as dit by braai kom – van die hout tot geheime speserye en braaitegnieke. Daarom is dit vanselfsprekend dat elke braaier ook ’n vertroude resep sal hê om sy belangrikste stukkie toerusting – die rooster – skoon te hou.
Probeer gerus een van die volgende metodes as jy jou rooster voor of ná die braai wil blink kry.
. Vlamme: Die algemeenste manier van roosters skoonmaak, is om dit oor vlamme te skroei en dan met ’n draadborsel skoon te skrop of met koerantpapier skoon te vee.
. Uie en suurlemoen: Sny ’n ui of suurlemoen in die helfte, druk ’n braaivurk daarin en vryf dit oor ’n vuurwarm rooster. Jy behoort só van die meeste aanpaksels en vet ontslae te raak.
. Seepwater: Dompel ’n spons in warm seepwater en gebruik dit om al die vetterigheid en aangebrande kos van die rooster af te vee. Spoel goed af, vee droog en smeer met ’n bietjie kookolie om te verhoed dat die metaal roes.
. Bier: Gooi bier oor ’n warm rooster en vee skoon met koerantpapier.
. Koeksoda: Indien jy meer tyd tot jou beskikking het, maak ’n pasta van koeksoda en water, smeer dit oor die rooster en laat 15 minute lank toe om droog te raak. Vee die droë pasta met ’n lappie af en plaas die rooster vir 15 minute lank oor warm kole sodat die oorblyfsels kan wegbrand.
- Bronne:www.cleanipedia.com/za/house-exterior/how-to-clean-a-braai-grill-in-10-steps; www.goodhousekeeping.co.za/clean-braai-grid-5-minutes/