DIE welsynsorganisasie Hugs of Hope op Hofmeyr, wat poog om werkskepping en opheffing in die dorp te bewerkstellig, kom gewoonlik op Woensdae bymekaar in die kerksaal.
By hierdie geleentheid word daar gewoeker en gewerskaf en dit is gewoonlik ’n miernes van bedrywighede.
Nie alleen word daar opleiding gegee aan naaldwerksters nie, maar diegene wat reeds dié vaar-digheid onder die knie het, maak ook artikels wat te koop aangebied word by die plaaslike Karoobos Padstal. Daar is ook ’n afde-ling wat slegs op internetbestellings- en bemarking werk.
Skenkings word verwerk en verpak en beskikbaar gestel aan diegene in nood en dan is daar ook ’n toegeruste kombuis waar daar op Woensdae ’n ete voorberei word.
Kospakkies, met behulp van die Diens van Barmhartigheidskommissie van die NG Kerk, word ook aan persone versprei wat voedselnood ervaar en wat betrokke is by Hugs of Hope.
Mariaan Schoeman, ’n plaaslike inwoner en ook mede-eienaar van die Karoobos Lodge en Padstal, het egter met ’n nuwe plan vorendag gekom – daar sal eersdaags op Donderdae ’n Hugs brei- en hekelgroep op die been gebring word. Daar word beplan dat die groep by die Karoobos Padstal byeen sal kom.
Hofmeyr Hugs of Hope sal wol en naalde voorsien en ervare breiers en hekelaars sal die onervare lede leer om die vaardigheid te bemeester.
Die voltooide produkte sal dan deur Hofmeyr Hugs of Hope bemark word, nadat dit markgereed gemaak is.
Hierdie geleentheid sal Hofmeyr Hugs of Hope net soveel meer sigbaar maak, want selfs diegene wat deur die dorp reis en by die Padstal stop sal kan kennis maak met die instansie se lede en betrokkenes.
Alle belangstellendes kan gratis by die groep inskakel.