SES jaar gelede is daar ’n nuwe koshuiskomitee verkies vir Huis Cronjé van die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet.
Christelle Nel was die voorsitter vir twee termyne (ses jaar). Van die eerste dag af, was die komitee se hoofdoel om die koshuis se geriewe op te gradeer.
Vandag kan terug gekyk word met trots en groot dankbaarheid.
Die hele koshuis is in hierdie tyd binne, sowel as buite geverf; kaste is vervang aan die seuns-kant en herstel aan die meisieskant; matriekbadkamers is oorgedoen; groot seunsbadkamer is oorgedoen; in die eetsaal spog hulle met ’n hoofleiersbord; voor die koshuis is ’n netjiese palisadeheining; die hele koshuis se matrasse asook van die beddens is vervang en die koshuis het ’n vlag gekry wat daagliks gehys word.
Iets waarop hulle baie trots is, is hul eie koshuislied, geskryf deur die 2015-hoofmeisie van Huis Cronjé, Lizelle Nel.
Die afgelope vyf jaar bied hulle ook elke jaar ’n baie suksesvolle springbokjagkompetisie aan.
Die fondse word aangewend vir instandhouding. Die brein agter hierdie projek is Tokkels Lombard. Dit is ’n geleentheid wat baie harde werk verg en beslis die moeite werd is.
Aan die einde van 2017 het een van die uittredende lede, Lea van der Vyver, in samewerking met Annalie Lategan van Aberdeen, die area voor die koshuis verfraai met die bou van ’n pragtige spuitfontein waar die kinders lekker kan ontspan.
Net nadat Nel se termyn verstryk het, het sy die pragtige nuwe naambord en wapen laat aanbring voor die koshuis as af-skeidsgeskenk.
Die komitee is trots op hierdie koshuis en dit is ’n heerlike huis vir elke inwoner, weg van die ouerhuis.