TWEE omgee-dames van Somerset-Oos, Christa van Gend en Elma van Eeden, het besluit om die Skoenbokse vir Kersfees-inisiatief vir die inwoners van Huis Silwerjare ’n werklikheid te maak.
Hulle poging was uiters suksesvol en die keurig toegedraaide bokse is onlangs aan elke inwoner van Huis Silwerjare oorhandig.
Die 55 ontvangers van die onverwagte geskenke is ook met ’n koppie tee en koek tydens ’n gesellige kuiertjie bederf.
Die geskenke is deur Van Gend en haar helpers uitgedeel.
Die inwoners was werklik oorstelp van vreugde en het hul dank en groot waardering vir hierdie mooi gebaar te kenne gegee.
Die dames van die inisiatief was ook dankbaar teenoor elke persoon wat bygedra het om hierdie droom waar te maak.
Volgens Christa het Elma die groot taak gehad om die nodige geld in te samel.
“Sy het hierdie taak baie suksesvol afgehandel. ’n Baie spesiale dankie dus aan haar wat by tye moeilike werk op haar eie gedoen het.”