Die DA het skenkings aan Jolene Booysen en haar gesin oorhandig. Van links is Bettie Lawens (stadsraadslid), Jolene, Sydney Holster (stadsraadslid) en Charles Featherstonehaugh (voorsitter van die DA-tak in Cradock). Voor sit Duné Wilken. FOTO:VERSKAF


INWONERS van Cradock en Middelburg het al groot skade gely toe woonhuise en spazawinkels in die gebied deur brande verwoes is.

Geen hulp om die brande te blus kon in enige van die gevalle gevind word nie, aangesien die deeltydse brandweermanne, met jare lange ondervnding, op 1 Oktober kennis gekry het dat hul dienste nie meer benodig word nie.

Verlede naweek is ’n enkelouer en haar drie kinders haweloos gelaat toe hul opslaanhut deur ’n brand verwoes is. Die enigste hulp wat hulle kon kry, was dié van hul bure wat met tuinslange gekeer het dat die brand nie verder versprei nie.

Jolene Booysen van Cradock en haar drie kinders, Sharmone Olivier (21), Denisha (11) en Dimetri (9) het alles verloor, behalwe die twee kleintjies se skoolklere wat genadiglik ten tye van die brand in hul ouma, Mona Saptoe, se huis was.

Jolene het vertel dat sy en die kinders by haar ma in die huis gesit en televisie kyk het toe die brand verlede Vrydag om ongeveer 4.30nm deur hul bure ontdek is. “Ons huisie was toe al in ligte laaie en ons kon absoluut niks red nie,” het Jolene vertel. “Omdat daar nie ’n brandweerdiens in die dorp is nie, het ons die polisie ontbied, maar hulle kon niks vir ons doen nie,” het sy gesê.

Die vyf deeltydse brandweermanne in Cradock en drie van Middelburg se dienste is op 1 Oktober skriftelik deur Lucky Mulaudzi, die munisipale bestuurder gestaak weens ’n beweerde tekort aan fondse. Onmiddellik daarna is advertensies geplaas vir permanente brandweermanne en is drie elk op Cradock en Middelburg aangestel. Hulle ontvang glo nogsteeds opleiding en die twee dorpe is vir al meer as vier maande sonder brandweerdienste.

Drie huise en twee spaza-winkels het die afgelope vier maande in Inxuba Yethemba-munisipale (IYM) gebied tot op die grond afgebrand sonder dat die eienaars enige hulp kon kry om brande te blus.

Volgens Kosie de Klerk, ’n makelaar op Cradock, kan die munisipaliteit onder sekere omstandighede verantwoordelik gehou word vir skade as al hul dienste, soos die brandweer, nie in plek is nie.

Die gemeenskap het geen kennis gekry van die staking van brandweerdienste nie.

Jolene en haar gesin het jare gelede al aansoek gedoen vir behuising, maar sy is steeds, volgens die behuisingsbestuurder, slegs ’n statistiek op die lys van 9 000 Cradockers en 6 000 Middelburgers wat wag vir behuising.

Ray Shweni, burgemeester, was by ’n begrafnis toe hy genader is vir kommentaar en kon nie op ons navrae antwoord nie, terwyl Lucky Mulaudzi, munisipale bestuurder nie op ’n oproep of boodskappe gereageer nie.

Intussen het lede van die DA gisteroggend klere vir die gesin, kos en ander benodighede aan Jolene oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.