Huldeblyk aan Brigadier-Generaal Hendrik Smit

DIS met leedwyse dat die nuus ontvang is van Oud-Middelburger, Brigadier-Generaal Hendrik Bernardus Smit (75) wat op Vrydag, 28 September aan hartversaking oorlede is.


DIS met leedwyse dat die nuus ontvang is van Oud-Middelburger, Brigadier-Generaal Hendrik Bernardus Smit (75) wat op Vrydag, 28 September aan hartversaking oorlede is.

Hy was die seun van Marthinus en Baby (Johanna) Smit van die plaas Noodhulp in die Middelburg-distrik en is op 22 November 1942 gebore.

Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Middelburg voltooi en ná sy militêre diensplig by die Leergimnasium van die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit.

Hy het vroeg in sy loopbaan reeds die rang van Brigadier-Generaal beklee en het op 50-jarige ouderdom uit diens van die mag getree. Daarna het hy etlike jare in Europa, Oos-Europa, die Midde-Ooste en Afrika as konsultant vir die Pantser Wapenindustrie gereis.

Hy het verskeie ingenieurskwalifikasies gehad en die Rooikat Pantservoertuig is onder sy leiding ontwerp en ontwikkel. Sy opvolger het die projek voltooi.

In sy hart het Hendrik altyd na die Karoo gehunker. Hy het ook dikwels sy Karoo-familie besoek, waaronder sy broer, Andries Smit en suster Elize Vögel van Graaff-Reinet.

Hy was intellektueel, musikaal, belese en baie talentvol. Sy uitsonderlike kenmerke was mensliewendheid en gasvryheid. Sy geliefdes uit die Karoo en Pretoria groet hiermee ’n merkwaardige seun van Middelburg.

You need to be Logged In to leave a comment.