IANÉ Ferreira, dogter van PC en Marisca Ferreira van die Middelburg/Hanover-distrik, het van 21 tot 25 Augustus die junior Protea-span in Bloemfontein teen Namibië tydens die wêreldbeker-ruiterkunseindstryd verteenwoordig.

Sy het reeds in Januarie vanjaar haar Protea-klere verwerf en sy is hiermee in die junior-span ingesluit wat in Augustus teen Namibië deelgeneem het.

Iané, met Exclusive Olé, het in die ruiterkuns driegang-afdeling goud vir Suid-Afrika verwerf. In die vyfgang-afdeling het Suid-Afrika ook goud verwerf.

Dié kranige perderuiter kry reeds sedert 2012, toe sy ’n gr. 3-leerder by die Primêre Skool Karel Theron was, afrigting by George Borcherds en Riekie Engelbrecht van George Borcherds-stalle.

Iané het die afgelope 3 jaar deelgeneem aan die Protea-proewe waar sy jaarliks deurge-dring het tot die top 18 ruiters.

Vanjaar het sy gekwalifiseer tot die top 12 ruiters in die Protea-span.

Iané, wat tans ’n gr. 9-leerder by die Oranje Meisieskool in Bloemfontein is, oefen elke oomblik wat sy kan by die George Borcherds-stalle buite Middelburg.

Aangesien sy nie so gereeld plaas toe kan kom nie, waardeer sy elke oomblik van George en Riekie se tyd wat hulle aan haar be-stee.

Haar ma, Marisca erken ruiterlik dat George en Riekie se aandeel in Iané se perdry van onskatbare waarde vir die Ferreiras is.

You need to be Logged In to leave a comment.