BY die Imibala-galery te Kerkstraat 30 in Graaff-Reinet word besoekers gulhartig ontvang deur bestuurder Kim Imrie en assistent Ros Goodson.
Hier kan werke van Suid-Afrika se voorste kunstenaars besigtig en gekoop word. ’n Groot persentasie van die wins uit ver-kope word aangewend ten bate van plaaslike behoeftige skole.
Kunskliefhebbers, van kenners tot kinders, kan hulle tot 21 Augustus verlustig in ’n uitstalling van Walter Battiss (1906 – 1982), alombekend as die “sagmoedige anargis”.
Nie net word van sy bekendste werke uitgestal nie, maar ook ’n aantal werke wat nog nooit vantevore op uitstalling was nie, uit die private versameling van professor Murray Schoonraad.
Die eksentrieke Battis, ’n boorling van Somerset-Oos, word alomweë beskou as die vader van abstrakte kuns in Suid-Afrika en het kuns bestudeer terwyl hy gewerk het as magistraatsklerk. Hy het eers op 35 sy BA graad in Skone Kunste behaal.
Battis was een van ons land se mees produktiewe kunstenaars: sy nalatenskap behels nagenoeg 22 000 kunswerke, nege boeke en verskeie artikels. Hy het vir 30 jaar kunsklasse aangebied aan Pretoria Boys’ High, en was professor in Skone Kunste aan Unisa tot 1971.
Een van die mees amusante projekte wat dié individualis aangepak het, was die hele “alternatiewe realiteit”, Fook Eiland, waarvan hy homself gekroon het tot “King Ferd the Third”. Battiss het vir Fook Eiland ’n eie geskiedenis geskryf, ’n kaart geteken, mense, plante en diere uitgedink, en ’n unieke alfabet en taal geskep. Fook Eiland het ook sy eie posseëls gehad, ’n eie geldeenheid, paspoorte en bestuurslisensies. Dít was in die dae toe lughawe-sekuriteit nog nie so streng was nie, en Battis se kleurvolle Fookiaanse paspoort het amptelike stempels van Australië, Duitsland en Brittanje. Hy het in Amerika met sy Fook-lisensie bestuur en in Rome selfs daarin geslaag om ’n Fook-banknoot te ruil vir $10!
Asof Battiss se werke nie genoeg is nie, spog Imibala-galery ook met ’n permanente uitstalling van die vermaarde beeldkunstenaar Dylan Thomas se Cheetah – een van sy reusagtige werke – pronk in die binnehof tussen die galery en die Drostdy-hotel.
Onthou gerus dat die Imibala-galery verbind is met De Oude Wijnkamer – hier kan besoekers lieflike Suid-Afrikaanse wyne koop of ’n wynproe meemaak vir R120.
In Graaff-Reinet hoef ’n mens nie ver te ry om jou sintuie op meer as een manier te prikkel nie!