Insekdoder bring herinneringe terug van rooimiere, balbyters en Neef Weeluis

EK was bevoorreg om my kinderdae in ’n interessante era te beleef. Toe knaagdiere en insekplae die lewe vir ons ouers en grootouers onplesierig gemaak het.


EK was bevoorreg om my kinderdae in ’n interessante era te beleef. Toe knaagdiere en insekplae die lewe vir ons ouers en grootouers onplesierig gemaak het.

Donkiejare voor die koms van insekdoders en ander moderne plaagbestryders. Hoewel die plae van ons tyd die grootmense hoofbrekens besorg het, het ons kinders nogal lekker genot daaruit geput.

So was dit elke dag net voor slapenstyd my taak om in elke hoekie van ons tweevertrekhuisie ’n slagyster vir Manie Muis en kie te stel wat klokslag onder die dekmantel van donkerte hulself aan ons maandelikse proviand kom help het. Ongenooid, natuurlik. Ook nie met ’n duur stukkie kaas van daardie tyd as lokaas nie. Nee, sommer ’n ou varkspekkie of ’n karige knypsel-tjie van ’n vetkoek.

Die toeklap van ’n slagyster en die kortstondige gepiep van ’n muis het later vir my saamge-smelt met die magdom naggeluide van daardie tyd. Die volgende oggend sou ons getroue huiskat weglê aan die aand se vangs totdat sy later so vet soos die legendariese Garfield geword het.

Omdat ons huisie ’n eenvoudige grondvloer gehad het, het ou Songololo of Duisendpoot ook gereeld onder ’n bed of twee uitgekruip.

Hy is sommer sonder seremonie in opgekrulde vorm met ’n grasbesem by die huis se kombuisdeur uitgevee. Miere was nog ’n plaag wat sommer in kolonievorm oral op ons vloer uitge-slaan het. Swartes, met hul voorliefde vir soetig-heid. Rooimiere aan die anderkant se voorkeurdis was ’n murgbeen of enige stuk vleis wat êrens oornag blootgelê het.

Die volgende dag sou die area jou herinner aan ’n hedendaagse EFF-saamtrek. Dan was ’n kokende ketel water al medisyne om die kwaal te genees. Van ’n balbyter sê ek liewer niks. Nee kyk, hy het gebyt waar dit rêrig seermaak. Die samestelling verklaar homself.

Maar vir één insek het ek in my kleintyd groot respek gehad. Neef Weeluis! Daai karnallie kon jou op die skaarsste deel van jou liggaam vreet dat jy uit radeloosheid douvoordag die warmte van jou bed sal verlaat en buite op ’n houtbankie gaan sit tot die son in die ooste op die horison verskyn.

Wanneer ek vandag nog deur die afdeling vir insekdoders in ’n groot kettingwinkel stap verlang ek met heimwee na my kinderdae. Ek soek dan ’n blikkie waarop al die pestilensies van my kindertyd uitgebeeld word.

Met my oog op die blikkie gerig gee ek dan weereens my verbeelding vrye teuels. Weer sien ek hoe ek as kind ’n vet vlooi tussen my duim en wysvinger dronkvryf.

Dan met die naels van my twee duime vas-knyp en myself verlekker aan daai klikgeluid waarmee ek hom in sy peetjie stuur. Ja-nee! As vandag se kinders maar net weet wat hulle mis.

You need to be Logged In to leave a comment.