’N WERKER van die Hazelborgwoonstelle op die dorp is helder oordag ernstig aangerand by Cradock se munisipale stortingsterrein, waaroor reeds baie klagtes én ’n siviele saak in die hooggeregshof in Grahamstad gemaak is.
Volgens Jeanette Kruger, bestuurder van die woonstelblok, het sy en ’n helper verlede Woensdag, soos gewoonlik, die vullissakke van hul 33 woonstelle na die stortingsterrein geneem. Hulle doen dit al vir jare om te verhoed dat honde en ander sakkrappers veroorsaak dat die inhoud die strate vol waai.
Dit terwyl elke bewoner van al 33 woonstelle maandeliks R157 vir vullisverwydering betaal.
“Toe ons op die terrein aankom, was die munisipale trok ook daar en reeds besig om af te laai,” het Kruger vertel. “Ek het my werker gevra om te kyk terwyl ek agteruit ry sodat ek nie in die munisipale trok se pad is nie, toe ’n jong kind wat vermoedelik onder die invloed van dwelms was, my werker ’n klomp Xhosawoorde toegesnou het voordat hy hom toegetakel het.”
Volgens Kruger het sy hom te hulp gesnel en gehelp om van die seun weg te kom. Hulle was besig om hul dromme op te laai om te ry toe die seun hulle met klippe bestook het.
Hy het die bakkie met bottels gegooi en haar werker met ’n plank teen die kop geslaan. Nadat die bestuurder van die munisipale trok hulle te hulp gesnel het, kon hulle die terrein verlaat.
Kruger het haar werker se wonde versorg en hom toe na die polisie-kantoor geneem om ’n saak te maak.
Volgens Kruger het sy ongedeerd daarvan afgekom, maar is sy baie getraumatiseerd deur die gebeure.
Die dorp se Sakeforum en die Groot Visrivier waterverbruikersvereniging het ’n siviele saak teen die plaaslike munisipaliteit in die hooggeregshof in Grahamstad gewen waarin hulle onder meer verplig word om die munisipale stortingsterrein in sy geheel te omhein, wagte aan te stel, te sorg dat vullis nie gebrand word en te verhoed dat mense op die terrein woon.