Inwoners se voete jeuk tydens lyndans-vertoning

’n LYNDANS-VERTONING het vroue van Cradock só aangespoor dat daar ongetwyfeld binnekort ’n klub op dié dorp gestig gaan word.


’n LYNDANS-VERTONING het vroue van Cradock só aangespoor dat daar ongetwyfeld binnekort ’n klub op dié dorp gestig gaan word.

’n Baie aangename teeparty is verlede Saterdag, 15 September by die Elizabeth Jordaan-tehuis gehou. Die fikse lyndansers van Somerset-Oos het vir die vermaak gesorg met twee aanbiedings.

Almal se voete het letterlik gejeuk terwyl musiek soos cha-cha-chá, Wie se kind is jy en rock-’n-roll gespeel het.

Die groepie van agt dansers, onder leiding van Antoinette Ha Ui, het hulle goed van hul taak gekwyt en van die gaste het later lustig saam gedans.

Selfs van die tannies wat gewoonlik met looprame oor die weg moet kom, het met hul voete tyd gehou terwyl die lekker musiek gespeel het.

Ná afloop van die geleentheid het Somerset-Oos se dansers ’n klompie ywerige Cradockers touwys gemaak.

Die gesellige geleentheid het heelwat langer as wat beplan was, aangehou.

Volgens Ha Ui het Somerset-Oos se lyndansklub ongeveer 20 lede. Sy het gesê hulle is baie entoesiasties en dans agt ure per week.

Hulle het die optrede op Cradock gratis ten bate van die tehuis vir bejaardes aangebied.

You need to be Logged In to leave a comment.