OP Vrydag, 20 April het die Lofosgemeente van Cookhouse hul jaarlikse “potjie” vir Huis Silwerjare se inwoners op Somerset-Oos gemaak.
Die inwoners was dit eens dat dit altyd ’n lekker bederf is. Hulle is getrakteer op twee geurige potjies – hoender en beesvleis – op rys en ’n liplekker gebakte poeding met vla agterna.
Rika Scheun, bestuurder van Huis Silwerjare, sê die potjiekosdag is ’n jaarlikse instelling waarna almal uitsien.
Goegie Erasmus vertel dat die Lofosgemeente hierdie jaar sy tiende bestaansjaar vier. Dit is gestig nadat die NG Kerk op Cookhouse nie meer lewensvatbaar was nie. Sommige van die NG Kerk-lidmate het op daardie tydstip Somerset-Oos toe gery om kerkdienste by te woon. Daar was egter ander vir wie dit nie haalbaar was nie en sterk gevoel het dat hulle eredienste op Cookhouse moet aanbied.
Carl Davies het in 2008 die Lofosgemeente gestig en sedertdien hou hulle hul dienste by die Laerskool Cookhouse wat vir hulle ’n houtwerkkamer beskikbaar gestel het. Dié het hulle in ’n plek van samekoms omskep en dit is waar hulle steeds kerk hou onder leiding van Hendrik Bronkhorst, verbonde aan die Family Church in Somerset-Oos. Die dienste begin Sondae om 09:30 en daarna is daar ’n gesellige teedrinkery.
Op die oomblik is daar lidmate van alle denominasies en die samewerking is ongelooflik goed. Die gemeente is finansieel sterk daaraan toe.
Die Lofosgemeente is van plan om by die Church of the Nation, waarvan die Family Church ook deel is, te registreer en hulle behou noue kontak in hierdie verband.