Dié kragpaal is deur ‘n vragmotor beskadig.FOTO: VERSKAF


MIDDELBURGERS raak nou warm onder die kraag vir Inxuba Yethemba Munisipaliteit oor beloftes van ’n wetstoepassingsoffisier wat steeds nie nagekom word nie.

Intussen veroorsaak vragmotors groot skade aan die infrastruktuur van die dorp. Veral snags en oor naweke is daar ’n toe-stroming van swaarvoertuie wat kruis en dwars parkeer, in eenrigtingstrate opry en dan daar oornag, in plaas daarvan om van die gerieflike trokhalte reg buite die dorp gebruik te maak.

Volgens sommige inwoners, blyk dit dat prostitusie die groot aantrekkingskrag is wat trokke die dorp binnelok.

“Die lorries hou rég voor my besigheid stil,” vertel Charlene Vorster van Toeka tot Nou. “Die gemors wat ek in die oggende moet aanskou, en waar my klante moet stilhou, is onbeskryflik. Ek kan dit nie vir ’n gesinskoe-rant herhaal nie.” Volgens Vorster gebeur dit ook dikwels dat die swaarvoertuie nog nie vertrek het teen 08:00 soggens nie, en aange- sien hulle dwars parkeer, versper hulle verskeie parkeerplekke vir klante van Capitec, Toeka tot Nou, Ackermans en Total Sports.

Die afgelope naweek is ’n pilaar van die kantoorgebou van Minnaar & De Kock omgery, ironies genoeg rég by ’n bordjie wat stilhou van swaarvoertuie verbied. Ook ’n kragpaal is die naweek omgery.

Intussen is die muur van die Metodiste-kerk, ’n nasionale gedenkwaardigheid wat in Junie omgery is, nog nie herstel nie, en word dié hoekie nou as gerieflike toilet vir vragmotorbestuurders aangewend.

Om sake te vererger, gaan die stroping van bome in die vleigebied buite Middelburg voort. Die afgelope Sondag moes nabygeleë inwoners hoor hoe stropers onder die bome inlê met ’n kettingsaag.

Die heersende wetteloosheid pas egter sekere inwoners, wat boerbokke en varke op residensiële eiendomme aanhou en soggens laat uitkom om die dorp se strate te plunder.

Tydens die openbare munisipale vergaderings in Mei, waartydens inwoners insette kon lewer aangaande die voorgestelde begroting, het Mid-Karoo Express IYM raads-lid Sibongile Masawe uitgevra oor die verwagte datum waarteen die diereskut in werking en die wetstoepassingsoffisier aan-gestel sou wees.

IYM het onderneem om binne drie maande hierdie beloftes na te kom. Ook die brandweerdienste is tans aan bande gelê omdat die brandweerwa onklaar geraak het.

Mid-Karoo Express het foto’s van die skade wat die afgelope naweek in die dorp aangerig is, aan IYM gestuur vir terugvoer. Teen druktyd is geen kommentaar egter ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.