Inxuba Yethemba-munisipaliteit skryf miljoene af

INXUBA Yethemba-munisipaliteit (IYM), wat self sukkel om al hul finansiële verpligtinge na te kom, was genoodsaak om op ’n raadsvergadering verlede week ’n bedrag van R11.2 miljoen onverhaalbare skuld af te skryf.


INXUBA Yethemba-munisipaliteit (IYM), wat self sukkel om al hul finansiële verpligtinge na te kom, was genoodsaak om op ’n raadsvergadering verlede week ’n bedrag van R11.2 miljoen onverhaalbare skuld af te skryf.

Die bedrag word opgemaak uit onbetaalde rekeninge vir belasting en dienste in wyk 1 (41%), wyk 2 (33%), wyk 3 (24%) en wyk 4 (2%). Sommige van hierdie bedrae is blykbaar reeds uitstaande vanaf 2002.

Enkele van die skuldenaars se skuldbedrae is tot R21 000.

Ray Shweni, burgemeester, het sterk klem daarop gelê dat daar eers vasgestel moet word wie almal in die betrokke huise waar die skuld opgeloop het, woon voordat dié proses gevolg word.

“Die skuld van munisipale raadslede, -personeel en staatsamptenare kan nie kwytge-skeld word nie. Baie van hulle en ander goed besoldigde mense wat miskien by ’n ou vader of moeder woon wat behoeftig is, mag nie toegelaat word om op die behoeftige se rug te ry nie,” het hy gesê.

Nog ’n verlies vir IYM is dat hulle nou ook verplig is om R52 532 se brandstof af te skryf.

Na verneem word het IYM aanvanklik brandstof op grootmaat vir Cradock en Middelburg aangekoop.

Munisipale voertuie het egter vir die afge-lope jare nie meer van hierdie brandstof gebruik gemaak nie, met die gevolg dat dit “oud” geword het en glo die voertuigenjins sal beskadig indien dit wel gebruik word.

By die raadsvergadering is besluit dat die brandstof afgeskryf moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.