JA Ncaca Primêr reik uit na tehuis se bejaardes

LEERLINGE en onderwysers van J A Ncaca primêre skool in Lingelihle het verlede Woensdag uitgereik na die inwoners van die Elizabeth Jordaan-tehuis vir bejaardes op die dorp.


LEERLINGE en onderwysers van J A Ncaca primêre skool in Lingelihle het verlede Woensdag uitgereik na die inwoners van die Elizabeth Jordaan-tehuis vir bejaardes op die dorp.

’n Koor van ongeveer 50 kindertjies van gr. R tot gr. 4 het die inwoners vermaak met pragtige sang waarna vier van die onderwyseresse ook vir hulle gesing het.

Alfie Blume, die skoolhoof, het vertel dat die skool, toe hy dit ’n klompie jare gelede oorge-neem het, 405 leerlinge gehad het.

“Nou het ons getalle bykans verdubbel na 750 maar dit is so hartseer dat ons nog in dieselfde gebou met dieselfde fasiliteite moet aangaan. Ons het vanjaar 140 gr. R’s en ons is verplig om sewentig in ’n klas in te prop,” het hy vertel.

Volgens Blume is die skool egter baie geseënd en wil hy hom verstout om te sê dat J A Ncaca die beste “no fees” skool (ouers betaal geen skoolgeld nie) in ’n groot omtrek is. Die staat betaal net R1 100 per kind per jaar en tog het hulle by dié skool volledig toegeruste rekenaarkamers waar elke kind een keer per week opleiding op 36 “notepads” en 20 skootrekenaars ontvang.

Die personeel ontvang ook opleiding in “Power point” vir hulle vraestelle en take.Voordat die kinders Woensdagoggend terug skool toe is, het Blume en Nomabogo Ncede, die vise-hoof, veertig paar skoene aan die tehuis geskenk. Blume sê hulle het die skenking ontvang en die bestuurspan het besluit om die oortolliges, wat seker ook te groot was vir die kinders, aan die tehuis te oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.