Jaar begin goed vir CHS se sportspanne

OP Saterdag, 10 Maart het verskeie van die Hoërskool Cradock se eerste hokkie-, netbal- en rugbyspanne aan die Gill-Kollege-sportfees in Somerset-Oos deelgeneem.


OP Saterdag, 10 Maart het verskeie van die Hoërskool Cradock se eerste hokkie-, netbal- en rugbyspanne aan die Gill-Kollege-sportfees in Somerset-Oos deelgeneem.

Tydens dié sportfees is die Kwaggas van CHS se wintersportseisoen amptelik afgeskop.

Hokkie

Die meisies se eerste wedstryd was teen die Hoër Volkskool – ’n wedstryd wat CHS 2-0 gewen het.

Volgende het die Kwaggas teen die span van die Hoërskool Templeton te staan gekom. Die jong span het gewys wat in hul steek en het ook hierdie kragmeting oortuigend met 5-0 gewen. Die doele is deur Elandri Dannhauser (2), Minke de Wet (2) en Lara Marais (3) aangeteken.

Die meisies het tydens albei wedstryde goeie spanwerk en tegniek getoon, wat groot bydraende faktore vir hul sukses was.

Die span se volgende wedstryde sal op 17 Maart tydens die Spar-fees in Grahamstad plaasvind.

Netbal

CHS se o.19A-span het goed gevaar en het 3 uit 4 verkorte wedstryde gewen.

Oorwinnings is teen Aeroville (17-3), Gill o.16A (21-1) en Michausdal SS (17-3) behaal. Ongelukkig het CHS in ’n naelbyt-wedstryd met 11-9 teen Kirkwood verloor.

CHS is deur Ilana Steenkamp (kaptein), Houghlynne Swarts, Sigcobile Nkosana, Chamrine Booysen, Andrea Felix, Lenay Booysen, Simamkele Shweleni, Marileigh Stuurman en Anika Hay verteenwoordig.

Rugby

CHS se rugbyspan het ook aan dié fees deelgeneem.

’n Baie kompeterende Hoërskool Kirkwood is ingedeel om teen CHS te speel. Die Kwaggas se harde werk in die voorseisoen was egter beloon toe CHS die kragmeting oortuigend met 22-7 gewen het.

Drieë is gedruk deur Siphe Nofukuka, Rivaldo Rafferty en Delaré Schoeman met twee pragtige doelskoppe wat deur Lance Swarts oorgeskop is.

Siya Caku-Caku het ook ’n strafskop oorgesit en het die Kwaggas gehelp om die wen te beklink.

  • CHS se volgende hokkie-, rugby- en netbalwedstryde vind op 23 en 24 Maart tydens die Despatch-sportfees plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.