Jan Similo maak 100

JAN (Mbondzondzo) Similo is ’n hele eeu gelede in Lady Frere gebore en het pas sy honderdste verjaarsdag aan’t huis van sy dogter, Liesbet Similo, in Lingelihle herdenk.


JAN (Mbondzondzo) Similo is ’n hele eeu gelede in Lady Frere gebore en het pas sy honderdste verjaarsdag aan’t huis van sy dogter, Liesbet Similo, in Lingelihle herdenk.

Hierdie skraal man, wat deesdae ’n kierie nodig het om te loop, onthou sy jong dae in die voormalige Transkei en al die kieriegevegte en ander speletjies wat hulle gespeel het, nog goed.

Hy kan nie verklaar hoekom hy so oud word nie, maar sy grootste wens is dat die Here hom moet vat en hom weer ’n jong man moet maak. Jan sê nadat hy Lady Frere verlaat het, het hy Cradock toe gekom en toe by Willie van Rensburg senior, op Kleinplaas kom werk.

“Dit was baie goeie jare en ek onthou veral hoe ek, meneer Willie en Rodney Rayner skoue in Johannesburg gaan bywoon het. Ons het met skape en beeste geboer, maar het net skape skou toe gevat.

“Rayner het sy bekende dorpers gaan vertoon. Die stad was baie groot en daar was omtrent baie mense, maar dit was vir my baie lekker om al die diere daar rond te sien,” het hy vertel. Hy sê hulle het baie lekker op Kleinplaas gebly en graag Saterdagaande gedans en lekker partytjie gehou. “Maar,” sê Jan, “deesdae kan ek nie eers meer na ’n vrou kyk nie, wat nog te sê om te dans.”

Toe die ouderdom hom begin bekruip moes hy maar dorp toe trek om by sy dogter te kom bly.

Hy was twee maal getroud, maar albei sy vroue het hom reeds ontval. Hy het nege kinders, 13 kleinkinders en agt agter-kleinkinders.

Jan sê die lewe het drasties verander in sy leeftyd. Vandag is die wêreld nie meer so wyd en vry soos voorheen nie en moet jy maar gedurig uitkyk vir kriminele wat jou iets wil aandoen.

Hy geniet nog baie goeie gesondheid. Dit is net die ou bene wat so pla. “En ja,” het sy dogter, Liesbet, bygevoeg, “dis maar goed so.

As dit nie vir die seer bene was nie sou my Pa oral in die woonbuurt rondgeloop het en sou ek hom heeldag moes gaan soek.”
– WILNA DE KLERK

You need to be Logged In to leave a comment.