DIE Christelike jeugbrigade van die VGKSA-Midros het hul jaarfees vanaf 9 tot 11 Maart by Midros (Middelburg) gehou.
Die brigades het Saterdag vanaf 09:00 die inwoners van Middelburg verras met ’n luide orkes en dril-optog deur die strate van Middelburg. Toeskouers kon hul self nie keer om ook vrolik op die maat van die tromme en blaasorkes saam te marsjeer nie vanaf die stadsaal, verby die poskantoor, Spar, ACVV en Keg. Die brigades het daarna na Midros vertrek waar die res van die feesvieringe plaasgevind het.
Hierdie fees beloof om nou ’n jaarlikse instelling te word. Middelburg is deel van Bataljon 19.
Ander kompanies wat uitgenooi was, is Graaff-Reinet VGKSA (45 lede teenwoordig), Jansenville VGKSA (40) en Aberdeen VGKSA (20 lede).
Schauderville van Port Elizabeth het onge-lukkig Vrydag onttrek. VGKSA-Midros is deur 52 lede teenwoordig. Elke kompanie hou tydens hul verjaarsdag ’n jaarfees en nooi die ander kompanies uit om in die feesviering te kom deel. Die doel van die brigade is om die geestelike, sedelike, liggaamlike en kulturele opvoeding en ontwikkeling onder die jeug te bevorder. Elke brigade bestaan uit offisiere, onder-offisiere en kadette.
Dean Williams, kaptein van brigade dril, was die organiseerder van die suksesvolle jaarfees. Offisiere, kadette, ouers en die gemeenskap het hom bedank vir al sy opofferings en harde werk wat hy ten opsigte van die dorp se jeug doen.
Christelike Jeug Brigade van die VGKSA-Midros se drilinstrukteur is konstabel McEllen Sharnick en die musiekinstrukteur is Franklin John Cupido.
Die brigade vertrek op Vrydag, 13 April na Stellenbosch en beoog om tydens Oktober vanjaar in George aan ’n dril- en musiekkompetisie deel te neem.
Hulle sal ook die jaarfeeste van die ander kompanies in die toekoms bywoon.
Die brigade hoop dat nuwe lede spoedig by hulle sal aansluit en by hul byeenkomste op Maandae vanaf 16:00 by die VGKSA-Midros Kerk, Bothaweg sal inskakel.