MET haar seun en sy vrou wat die lang pad van Bothaville af gekom het om saam verjaardag te hou, het Jo-Ann Rossouw haar 90ste verjaardag op Vrydag, 6 Julie vrolik gevier.

Gelukwense, gaste, ruikers vars blomme en heerlike eetgoed was aan die orde van die dag. “Om op só ’n manier 90 te word, is dan eintlik net ’n plesier,” lag sy.

Jo-Ann is op 6 Julie 1928 as Johanna Antoinetta Els op Somerset-Oos as die oudste van vyf kinders gebore. Sy het lank in Frank Meaker se winkel op die dorp gewerk waarna sy in 1950 met Johnny Fourie van Pearston getroud is en hulle toe in Pearston gaan woon het. Hy was ’n handvaardige man wat windpompe opgerig en reggemaak het en ook sweiswerk gedoen het.

Sy was “maar net ’n huisvrou”, maar het ook in hul kafee – Fourie’s Kafee – in Pearston se hoofstraat gewerk.

Uit hierdie huwelik is twee seuns en een dogter gebore. Anton van Bothaville, Monica van Jansenville en Leon wat hulle op die jeugdige ouderdom van 21-jarige leeftyd as gevolg van ’n ongeluk aan die dood afgestaan het.

As gevolg van Johnny se swak gesondheid het hulle in 1995 na Somerset-Oos verhuis. Johnny is in 1998 oorlede en later het Jo-Ann met Izak Rossouw, ’n neef van Johnny en ’n ou vriend van hulle vir baie jare, getrou.

Só het sy dan nog twee dogters bygekry. In 2004 ontval Izak haar en sedertdien woon sy op haar eie.

Met verloop van tyd het sy vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders ryker geword.

Hierdie klein en fyn vroutjie met die spierwit kroon is steeds vlug in haar bewegings en baie gesond, doen self die meeste werkies in haar huis en tuin en hou haar hande besig met die maak van ’n lappieskombers. Sy bestuur steeds haar motor en doen haar eie inkopies.

Sy vertel met genot watter ervaring dit was en hoe sy dit geniet het toe sy per geleentheid met ’n kerk se toergroep Israel besoek het.

“Die hitte was ondraaglik en in die aande wanneer ek by die hotel kom, was dit net reguit bad en bed toe om krag op te bou vir die volgende dag se uitstappie.”

You need to be Logged In to leave a comment.