DIE oud-Gilliaan Jomari het vandeesweek na haar tuisdorp, Somerset-Oos, teruggekeer om by die Gill Skouspel op te tree.
Jomari Greyling het op 14 besluit sy wil sing en het lesse geneem by ds. Elsa Botha. Sy het opgetree by talle kultuuraande en deelgeneem aan Eistedfodds. Sy het ook OP-kleure vir fietsry verwerf.
Een van die hoogtepunte wat sy as skoolmeisie beleef het, was toe sy in Phantom of the Opera tydens ’n matriekafskeidsgeselligheid haar helder sopraanstem kon laat hoor.
“Dit is ’n geleentheid wat my altyd sal bybly omdat dit vir my baie beteken het opdaardie stadium van my lewe. Ek is so geseënd om talle mooi herinneringe van my tuisdorp te koester.”
Jomari is ’n oud-leerling van die Laerskool Gill en het haar matrieksertifikaat in 2002 aan die Hoërskool Gill-Kollege verwerf.
Haar sangloopbaan het afgeskop direk nadat sy klaar was met matriek. Sy het in 2002 by die sanger Jaques de Coning aangesluit en saam met hom getoer om soveel as moontlik van die musiekbedryf te leer.
Sy het al saam met baie bekende Suid-Afrikaners verhoë gedeel en ook saam met van hulle in die ateljee gewerk. Onder hulle is Juanita du Plessis, Fredi Nest, Leon Schuster, Desmond Wells, Eden, Fatman, Steve Hofmeyer en Michael Lindt.
Sy het al optredes gehou in klein dorpies en stede van Messina in die Noorde tot in die Kaap.
Sy is getroud met die talentvolle en musikale musiekvervaardiger, Werner Beukes, wat met baie sangers en musikante agter die skerms werk.
Hulle woon al 10 jaar lank in Kaapstad. Werner is steeds in die musiekbedryf waar hy verskeie sangers se albums vervaardig.
Hul dogtertjie, Penélope, word in Oktober vanjaar drie jaar oud.
Jomari gee tans klas vir 2- tot 3-jariges en hou steeds haar sangloopbaan aan die gang.
Sy is tans besig met ’n projek wat binnekort te sien gaan wees.
Jomari sê sy sien baie daarna uit om by die Gill Skouspel op te tree en het groot waardering vir die feit dat Somerset-Oos steeds hul eie mense ondersteun.
Sy het ook groot waardering vir haar ouers, familie en vriende wat probeer om by elke vertoning of fees te wees waar sy optree.
“Die grootste les wat ek deur die jare geleer het, is om nederig te bly en te weet waar ek vandaan kom. Die belangrikste van alles is dat ons almal kinders van God is en ons talent/e van Hom gekry het. Ek is geseënd met musiek wat dik in my are loop en daarom sal ek altyd daarmee besig bly,” sê Jomari.