WANNEER die groot K-woord kop uitsteek, gaan sit baie van sy slagoffers gewoonlik in sak en as, maar ’n 11-jarige-kankerlyer van Adelaide in die Oos-Kaap het van die begin af besluit dat hierdie gevreesde monster nie vir hom sal onderkry nie.
Met Mid-Karoo Express se besoek aan die familie onlangs, is ons gegroet deur ’n borrelende Lebron-James Snayers waar hy saam met sy ma, Chrizelda Dingaan (36), voor die televisie sit.
Volgens Chrizelda is Lebron-James in 2016 met kanker gediagnoseer. Hy het destyds erge pyn in sy linkerbeen ervaar en ’n knop het later onder sy kniekop gevorm.
Die plaaslike praktisyn op Adelaide het, nadat hy X-strale van sy been geneem het, hom na ’n spesialis by Life St. George-hospitaal in Port Elizabeth verwys. Nadat toetse daar op hom gedoen is, is hy vir ’n tweede mening na Kaapstad verwys.
Toetse daar het dié van Port Elizabeth bevestig. Lebron-James ly aan ’n tipe kanker bekend as osteosarcom, oftewel beenkanker.
Op 11 Augustus het hy ’n knievervangingsoperasie by die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad ondergaan in ’n poging om die kanker se verspreiding te keer.
Teen daardie tyd het dit reeds tot bokant sy knie versprei en daar is toe besluit om sy been bokant sy knie af te sit. Dit sou voor Kersfees verlede jaar reeds gebeur het, maar die familie het vir uitstel tot in die nuwe jaar gevra.
Op 8 Januarie vanjaar is sy been bokant sy linkerknie geamputeer. Volgens Chrizelda het die familie deur ’n baie moeilike tyd gegaan.
“Aan die begin was dit bitter swaar om ons kind se toestand te aanvaar. Ek moes Lebron-James se ouer suster, Chelsea, afskeep.
“Ek het nagte wakker gelê en aan die Here vrae gevra waarop ek geen antwoorde gekry het nie. Sy pa werk in Port Elizabeth en kon net naweke huis toe gaan.”
Ook het die ryery tussen Adelaide en Port Elizabeth die familie liggaamlik, geestelik en finansieel uitgeput. Dingaan moes dikwels met haar seun twee keer per week na Port Elizabeth reis en om onkoste te bespaar, het sy soms sommer op ’n bankie in haar seun se hospitaalsaal geslaap.
Die familie is verskriklik dankbaar teenoor die organisasie Wings and Wishes wat hul vliegtuigkaartjies tussen Port Elizabeth en Kaapstad geborg het.
Ook het Reach for a Dream aan Lebron-James ’n selfoon geskenk en het die Choc Foundation hom met ’n magdom geskenke oorlaai.
Chrizelda beskryf haar seun as ’n lewenslustige kind.
“Hy is so positief dat hy ons as familie dikwels skaam maak. Wanneer ek die dag bietjie af voel is hy die een wat vir my sê, Mummy, cheer up.” Chrizelda sê haar seun was verskriklik haastig om ná sy operasie terug skool toe te gaan. Hy is tans ’n Graad 6-leerder by die Adelaide Primêre Skool. Hy moet nog elke derde week Port Elizabeth toe gaan waar dokters sy toestand monitor.
Chrizelda se raad aan ouers wat deur dieselfde donker dal beweeg is om ten alle tye positief te bly.
“Bid sonder ophou en glo dat alles sal regkom,” het sy gesê.
Luidens die bekkige Lebron-James was hy in sy dae ’n kranige rugbyvleuel, maar deesdae hou hy met sy krukke rugby van die kantlyn dop of kyk hy maar rugby op die kassie. Hy is tans verskriklik opgewonde omdat hy volgende week afmetings vir sy kunsbeen moet gaan doen.