JUDITH du Randt is ’n plaasvrou van Pearston en behoort aan die plaaslike VLV-tak.
Sy hou baie van kinders en is daarom bly dat sy al ’n ouma van twee woelwaters is met nog enetjie op pad.
Judith is nie ’n mens wat van stilsit hou nie en dus het sy haar hand al aan verskeie projekte gewaag, insluitend ’n volstruisboerdery. Ongelukkig moes sy dit vaarwel roep toe sy siek geword het as gevolg van “Farmer’s Lung” wat sy by die voëls gekry het.
Sy is baie lief vir haar tuin en is gedurig daar aan die woel en sy leef haar kunssinnige kant ook deur pragtige blommerangskikkings uit. Sy help ook graag met reëlings tref vir troues.
Sy het onlangs ingestem om een van haar resepte wat deur haar vriende opgehemel word, met Mid-Karoo Express se lesers te deel.
Sampgereg
Bestanddele:
2 koppies stampmielies (samp)
Sout, peper en Aromat na smaak
2 uie opgekap
1 pakkie spek, fyn gesny
1 pakkie sampioene, fyn gesny
500ml room
2 koppies gerasperde kaas
Metode:
- Week die stampmielies oornag in water.
- Braai die uie, fyngekapte spek en sampioene saam.
- Voeg die room en kaas by die gebraaide kos en meng.
- Kook die stampmielies totdat dit sag is.
- Roer die uie, spek en sampioenmengsel deur die stampmielies.
- Skep dit in ’n opdienbak.
- Strooi nog gerasperde kaas bo-oor en plaas dit in die oond totdat die kaas gesmelt is.