Amy van Jaarsveld (26) voor die Royal Caribbean International se grootste passasiersboot Symphony of the Seas.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Sy het haar werk as lewensoriëntering- en wiskunde-onderwyseres by die Carinus Laerskool op Cradock vir eers opsy gesit en is nou ’n reisiger op luukse skepe wat passasiers na bestemmings regoor die wêreld neem.

Amy van Jaarsveld (26) is ’n dubbele Suid-Afrikaanse liggaamsboukampioen. Die pandemie het verhoed dat sy aan die wêreldkampioenskap in Londen kon gaan deelneem.

Noudat reisbeperkings iets van die verlede is, het sy besluit om die wêreld te gaan verken.

Sy het navorsing gedoen oor die moontlikheid om op luukse passasierskepe te werk en met haar prestasies as liggaamsbouer het die firma Royal Caribbean International dadelik in haar belanggestel.

“Ek moes eers ’n baie intensiewe kursus van twee maande in Kaapstad onder die knie kry. Dit was onder meer oor persoonlike afrigter sowel as oorlewings- en mediese tegnieke,” sê Amy.

Sy het die welkome nuus dat sy met sukses die kursus voltooi en aanvaar is om op die skip te werk op haar verjaarsdag, 12 Februarie, ontvang. Maar toe trek COVID-19 haar plat.

Lewe op die passasierboot

“Ek kon eers op 26 Februarie via Londen na Miami vertrek om by die personeel van die Royal Caribbean International se grootste skip, Symphony of the Seas, aan te sluit,” sê Amy.

“Die lewe op die boot is besig en ons werk baie hard. Ons is sowat 1 000 personeel en werk ’n gemiddeld van tussen 10 en 14 ure per dag, maar dan kry ons darem twee halwe dae af,” sê Amy.

Daar is gewoonlik sowat 4 000 passasiers op die boot.

Amy bied nie net oefeninge soos pilates aan nie, maar help ook met diëte sowel as terapeutiese oefeninge.

Volgens Amy is haar kollegas op die boot uit alle uithoeke van die wêreld.

“Ons vorm egter ’n hegte band en probeer mekaar se tale aanleer en meer van mekaar se leefstyle en kosgewoontes leer.

“Ek het altyd gedink mense wat op so ’n seereis gaan is baie be-voorreg, maar party is gewone mense wat wil ontsnap van omstandighede by die huis of werk.

“Die skatryk gaste geniet na- tuurlik ’n heel ander leefstyl op die skip en kry die beste kajuite en beste behandeling.”

Paradys op aarde

Van die plekke wat Amy reeds besoek het, sluit in die Norweegse Fjorde, Spanje, Frankryk, Kanariese Eilande, Portugal en Engeland.

Sy is tans op ’n kleiner skip van Royal Caribbean International met die naam Anthem of the Seas.

Hulle vaar na die Bahamas en Amy sien geweldig uit na haar besoek aan die “paradys op aarde”.

“Die verskillende eilande van die Bahamas is bekend vir lekker weer, mooi water en geurige kos,” sê Amy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article