Shaun Jordaan (links) en E.T. Duvenhage van C.A.T. Motors in Cradock, wat al vir 35 jaar by die Vis betrokke is. foto:WILNA DE KLERK


CRADOCK is oorgehaal vir die 37ste Groot Visrivier-kanomarathon wat op 5 en 6 Oktober in twee skofte vanaf Grasrugdam tot by Cradock plaasvind.

Die gereelde voorloper, die voor-Vis, waar voornemende deelnemers die water kan toets, het die afgelope naweek plaasgevind.

Een van die marathon se grootste ondersteuners, Jacques en Shaun Jordaan van C.A.T. Motors, is al vir 35 jaar betrokke by die Vis. Hulle gee weer vier van hul splinternuwe Isuzu-bakkies en ’n dubbelkajuitvoertuig vir die organiseerders, media en ere-gaste om oor die naweek van die marathon te gebruik. Hulle gee ook weer ’n ruim kontant-inspuiting om die koste van die naweek te verlig.

“Die span van C.A.T. Motors se lojaliteit wat ons so positief onder- steun van die beginjare van die marathon af, sonder om ’n jaar oor te slaan, word opreg waardeer,” het Michelle Marais van die bestuur gesê.

Die K-1 Suid-Afrikaanse kam- pioenskappe word vanjaar op die Vis beslis en sterk mededinging word tussen roeiers verwag.

Kenners voorspel dat Andy Birkett en Hank McGregor die twee sal wees wat voorloop in die mansafde-ling, terwyl Bridgitte Hartley in die damesafdeling geklop sal moet word.

’n Nuutjie by vanjaar se marathon is ’n nuwe keerwal op dag een wat ’n verpligte oordrapunt sal wees.

Met net meer as ’n week om te gaan, trek inskrywings al by 850 en daar word verwag dat die 1 000-kerf weer vanjaar oorskry sal word.

Sover het buitelanders van Australië, Engeland en Spanje al van hulle laat hoor.

Die Vis is die enigste marathon in die land wat die sterkte van die water kan waarborg en die gereelde 26-kumek (kubieke meter per sekonde) sal weer beskikbaar wees.

Goeie nuus vir toeskouers is dat toegang tot die eindpunt in Cradock vanjaar elke dag gratis sal wees tot om 16:00 waarna ’n fooi gehef sal word.

’n Verdere pluspunt vir Springbok-ondersteuners is dat die wedstryd teen Nieu-Seeland op ’n grootskerm in die biertent gesien sal kan word.

Vrydag- en Saterdagaand sal Henk Grimsell en sy orkes van Port Elizabeth toeskouers vermaak.

Woensdag, voor die wedvaart begin, kan roeiers aan ’n kort wedloop van Marlow tot by Cradock deelneem om moontlik hul tye en wegspringplekke te verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.