DONDERDAGAAND, 13 September het die Primêre Skool Karel Theron op Middelburg, erkenning gegee aan die uitblinkers op sportgebied vir 2018.
Tydens ’n spoggerige gala-dinee is gaste, ouers en sportsterre by vrolik gedekte tafels onthaal. Die jong personeelkorps van die skool het die gaste tydens die verrigtinge met die smaaklikste driegangmaaltyd bedien.
Die gasspreker by die geleentheid was Niel Schoeman en hy het die leerders met sy motiveringsboodskap laat nadink oor wat hulle droom en visie in die lewe is. Sy boodskap was dat hulle dit moet uitleef en ook aan hulle ouers meedeel, sodat hul ouers hulle ook daarin kan ondersteun.
Leerders is met sertifikate beloon vir hul prestasies op die gebied van atletiek, rugby, netbal, tennis en skaak. Spesiale medaljes is ook vir uitnemende prestasies uitgedeel, waarna die uitdeel van trofees vir die hoogste prestasies gegee is.
Die hoogtepunt van die aand was verseker toe Karel Theron se sportman en sportvrou vir 2018 aangekondig is Hulle is onderskeidelik Lenfred Manuel en Isa Schoombee.
Baie geluk aan elkeen wat ’n erkenning ontvang het, asook aan elke ouer, onderwyser en afrigter wat die kinders ondersteun en aanmoedig om ook op sportgebied te presteer.

