TERWYL die Wes-Kaap die afgelope week sy ruim kwota aan reën, sneeu en oorstromings ontvang het, het die Oos-Kaap ook nie agterweë gebly nie.
Plekke soos onder meer Queenstown, Molteno, Graaff-Reinet, Cradock en Hogsback het temperature van benede vriespunt aan-geteken en by vele Oos-Kaapse dorpies was dit die afgelope week bitter koud.
Om nog verder olie op die wintervuur te gooi het brandstof, waaronder lampolie, die afgelope Woensdag duurder geraak. Dit skilder ’n donker prentjie vir veral die armste van die armstes wat nie elektriese verwarmers of elektriese komberse kan bekostig nie.
Foto’s wat op sosiale media versprei is, het vertoon hoe sneeu op verskillende dele in ons land geval het, met ruim neerslae wat op Sutherland en verskeie plekke in die Wes-Kaap aangeteken is.
Plaaslik is motoriste gemaan om versigtig te ry nadat sneeu op vele van die omgewing se bergpasse geval het.
Hogsback, in die skilderagtige Tyumevallei, is weereens deur ’n dik sneeuneerslag in ’n sprokieswêreld omskep. Dit het die afgelope week selfs by Whittlesea gesneeu.
Verskeie motoriste wat oor die Nico Malanpas na Queenstown moes reis, was Maandag verplig om halfpad teen die pas op, om te draai omdat die pad te glibberig was. Nog koue weer word vir die Oos-Kaap voorspel.
Berigte en foto’s van sneeu het ook vanaf Steynsburg en Hofmeyr ingestroom.
Louwrens Erasmus van Shama Bediening in Steynsburg deel mee dat hy elke maal wanneer dit sneeu, weer dieselfde toneel vroegoggend gaan afneem, want dit is vir hom so sprekend van Steynsburg dat hy dit graag in sy herinneringe wil vaspen.
Ook Hofmeyr – in die dorp en distrik – het ysige koue beleef. Ligte sneeu op die laagliggende dele het gesorg dat boere hul kuddes baie vinnig na warmer kampe moes skuif. Die ysige windjie wat egter van die sneeubedekte pieke van die Bamboesbergreeks oor die vlaktes gewaai het, het deur murg en been gesny.
Geen skade is egter aangemeld nie en die meeste boere hoop en glo dat nog lekker nat sneeu oor die volgende paar weke sal val, omdat dit soveel vir die veld beteken.
Die wêreld is ook spierwit geryp soggens sodra die temperature na onder vriespunt ge-daal het.
Volgens Garth Sampson van die Baaise weerkantoor, is daar sneeuneerslae by al die passe in die Mid-Karoo-omgewing aangemeld.
Die ergste koue is egter verby vir die res van die week, aldus Sampson.
“Toestande sal steeds snags koud wees – dit is tog winter!”