’N GROOT aantal Karoo-kinders het vir die Griekwa-unie aan die Somerbokkie-week 2018 vanaf 3 tot 6 Oktober 2018 in Vereeniging deelgeneem.
Elzaan Pieterse, Marilet Blom en Lara Barnhoorn van Middelburg en Janke Botha van Komani het in die Fast Five netbalspan gespeel.
In die Sewes-rugbyspan was Jaco Pieterse en JP Vlooh van Middelburg, Pieter van Schalkwyk van Aliwal-Noord, asook vier sportmanne van Cradock, AJ Lamprecht, Francois du Plessis, Juandre Snyman en Tertius Neethling.
Jannie Blom, Hendru Geldenhuis en Josh Bishop van Middelburg het vir Griekwa-unie krieket gespeel.
Die Griekwas het besonders goed gevaar. Die o.17 en o.13 netbalspanne het tweede geëindig in hul ouderdomsgroepe in die toernooi deur net-net te verloor in die finale.
Die o.14 sewesrugbyspan het uitstekend gevaar en was vir die tweede jaar die wenners in hulle afdeling.
Die o.15 netbalspan het vierde geëindig in die semi-finaal, terwyl die o.16 sewespan ook vierde was nadat hulle net-net verloor het in die semi-finaal. Die o.19 sewespan het sesde geëindig in hul toernooi.
In die krieket het Griekwa-unie se o.19 span vierde geëindig terwyl die o.13 span ook goed gevaar het.
Middelburg se DP Spangenberg was die afrigter van die o.19 krieketspan en Johan Jacobs koördineerder van Krieket, Rugby en Gholf tydens die Somerbokkieweek.
Een van die hoogtepunte van die toernooi was die aanwysing van die Nasionale spanne.
Middelburg se Marilet Blom is ingesluit in die o.13 Nasionale Fast Five netbalspan en Reinet Blom is gekies as afrigter van die Nasionale o.17 Fast Five span wat Desember 2018 na Hong-Kong toer.