NOG ’n Goue Oue uit Hertzog in die Katri-viervallei naby Fort Beaufort is hard besig om aan haar honderdtal van die lewe te kolf. En hierdie afgetrede onderwyseres het nog één lewensbegeerte – om weer voor ’n klaskamer vol leergierige kinders te staan.
Ouma Louisa Loots, ’n nooi Swartbooi, is op 22 Junie, 1924, op Bedford gebore. Haar laerskoolopleiding het sy by die Bedford Primêre Skool ontvang en haar hoërskool-opleiding by die Hoërskool Uitenhage.
Op hierdie selfde dorp het sy haarself as laerskoolonderwyseres by die Dower Onderwyskollege bekwaam.
Ouma Louisa het al twee vorige eggenote oorleef en is nou in haar derde huwelik. Sy was eers ’n weduwee Agnew, toe Dixon en is nou vir die afgelope 26 jaar met Lodewyk Loots van Hertzog getroud.
Ouma Louisa het in haar jarelange onderwysloopbaan by onder meer skole op Bedford, Readsdale, Bo-Blinkwater, Phillipton, Mankazana, Tidbury’s Toll asook Hertzog onderwys gegee. Sy kan ongelukkig nie meer onthou vir hoeveel jaar sy in die tuig was nie, maar sy dink dit was vir meer as 40 jaar.
Volgens haar pla die oë, ore en bene so effens maar kan sy darem nog so ’n bietjie lees. Met heimwee verklaar sy dat sy terug skooltoe verlang.
“As ek net nog vir ’n laaste keer in ’n klaskamer met kindertjies kan sit voordat my uurglas leegloop, sal ek baie gelukkig wees,” verklaar hierdie veteraan wat oor drie maande haar 94ste verjaardag sal vier.