Katriviervallei se Oom Mike deel sy herinneringe

IN Leeubekkiestraat in die woonbuurt Newtown op Fort Beaufort woon een van die Katriviervallei se mees gerespekteerde inwoners, ’n afgetrede skoolmeester in murg en been, Michael Essop.


IN Leeubekkiestraat in die woonbuurt Newtown op Fort Beaufort woon een van die Katriviervallei se mees gerespekteerde inwoners, ’n afgetrede skoolmeester in murg en been, Michael Essop.

Met Mid-Karoo Express se besoek die afgelope Sondag is oom Mike nog in sy kerkklere geklee en pronk sy palmtakkie reeds teen die gang se muur.

Michael Essop is op 12 September 1935 op Fort Beaufort gebore. Hy onthou sy kinderjare nog soos gister.

“In my kinderdae kon mens my geboortedorp se karre op jou vingers en tone tel en was verkeer nie naastenby so druk soos vandag nie.”

Hy onthou nog hoe die boere van die omgewing klokslag Saterdae op Fort Beaufort toegesak het om op die dorpsmark hul ware te verkoop. Van vrugte en groente tot eiers, plaasbotter, tuisgemaakte gemmerbier en konfyte en selfs speenvarkies en slaglammers.

Oom Mike het sy skoolloopbaan aan die St. Joseph’s Katolieke skool op die dorp begin in ’n tyd toe kloosternonne nog ore rooi ge-trek en sitvlakke met die dik liniale van daardie tyd warm gewiks het.

Ná standerd 6 is hy na die legendariese Holy Rosary Kloosterskool op Cradock en het daarna aan die destydse Perseverance Onderwyskollege by Kimberley as onderwyser gekwalifiseer.

In sy onderwysloopbaan het oom Mike onder meer op primêre skole by Mankazana, Keiskammahoek, St. Joseph’s op Fort Beaufort en later, nadat die familie na Oos-Londen verhuis het, by St. Francis Xavier in dié stad onderrig gegee.

Op 31 Maart 1956 het oom Mike trou ge-sweer aan sy vrou, Louisa, ’n nooi McDonald en uit hul huwelik is ses dogters en twee seuns gebore. Die familie het dertien jaar in Oos-Londen gewoon voordat hulle in 1968 na Hertzog in die Katriviervallei verhuis het.

Hier was oom Mike tydlank waarnemende hoof by Balfour Primêr voordat hy tot prinsipaal by die Tidbury’s Toll Primêre Skool aangestel is. Dié was ’n rustige plattelandse tweemanskooltjie waar oom Mike 20 jaar lank saam met sy eggenote onderwys gegee het.

“Ons het sommer saans op ons rûe in die kooi personeelvergadering gehou,” skerts oom Mike. Toe hy in 1996 aftree het die skool ook ontbind. Oom Mike se wederhelf het hom elf jaar gelede reeds ontval. Hulle is geseën met nege kleinkinders en ses agterkleinkinders.

Luidens oom Mike was dit uiters uitdagend om prinsipaal van ’n plaasskool te wees.

“Ouers en kinders het jou as ‘Meester’ aangespreek en benewens jou taak as prinsipaal was jy ook vir die gemeenskap ambulans, huweliksberader, begrafnisondernemer, posbode en moes jy gereeld pensioen en toelaevorms vir families voltooi.

“In my tyd was kinders stout en nie onge-skik soos die geval met vandag se kinders is nie. Ek het nie rêrig lat geswaai nie want die kinders het respek vir ons gehad,” sê oom Mike met ’n vonkel in sy oog.

Hierdie oud-onderwyser gaan nog gereeld Sondag kerk toe, bestuur nog sy motor oor lang afstande en lees daagliks sy koerant en bring ook sy vrye tyd voor die kassie deur.

You need to be Logged In to leave a comment.