KERIDWYN Swiegelaar werk al vir baie jare by die Ou Pastorie, nou as die Somerset-Oos Museum bekend.
Sy hou die museum en kosbare erfstukke sprankelend skoon en netjies en tree ook as gasvrou en gids op vir besoekers aan die museum. Sy is welbekend vir haar rooskonfyt, Comfrey-salf, lourierblare en koekies wat sy self in die kombuis van die museum maak en wat dan verkoop word vir fondse vir die museum.
Sy deel graag haar konfyttert, wat ná meer as 40 jaar steeds haar volwasse kinders se gunsteling-dis is.
Bestanddele
125 g botter of margarien
1 eier
½ koppie suiker
2 koppies bruismeel
Knippie sout
Appelkooskonfyt
Klapper
Metode
Klop suiker, botter of margarien en eier tot lig.
Meng meel en bietjie sout by en bewerk tot stywe deeg.
Deel die mengsel in twee dele.
Druk die een deel in ’n gewone foelie tertpan as kors.
Neem genoeg appelkooskonfyt en smeer lekker dik bo-oor die kors.
Strooi soveel klapper oor soos verkies.
Rasper tweede deel deeg bo-oor.
Bak by 180 °C tot mooi bruin – ongeveer halfuur.
Laat afkoel en geniet.