DIE organiseerders van die NG Kerk Somerset-Oos se Groen Lewe Projek moedig nou meer kinders aan om betrokke te raak.

Die projek word aangebied om ’n helpende hand na alle behoeftiges in die gemeenskap uit te reik en terselfdertyd die herwinbare materiaal weg van die rommelhoop af te hou.

Tans gaan tussen 70 en 100 kinders tussen die ouderdom van sewe en 12 na die Swop Shop op Maandae met verwerkbare rommel waar dit geweeg word en hulle “mulas” volgens gewig verdien.

Hiermee “koop” hulle dan blikkieskos, mieliemeel, spaghetti, macaroni, suiker, skryfbehoeftes, speelgoed en vele ander produkte.

Voor hulle huiswaarts keer met hulle aankope, kry hulle ook ’n koeldrank. Daar is reeds ’n paar behoeftige grootmense wat op Dinsdae ook hulle herwinbare rommel gaan inruil vir koepons wat hulle by SPAR kan inlewer vir die produkte van hulle keuse vir ’n vasgestelde bedrag.

Om nog meer kinders aan te spoor om aan die projek deel te neem, word daar nou ook punte toegeken aan die kinders wat hulle rommel inruil. Die kinders wat die eerste, tweede en derde meeste punte behaal, word aan die einde van die kwartaal met geskenkpakkies beloon.

Hierdie geskenkpakkie bevat hoofsaaklik kosprodukte wat deur die hele gesin gebruik kan word.

Hierdie kwartaal se pryswenners was Unathi Ghalo met die meeste punte, gevolg deur Erolene Jansen in tweede plek en Juliana Miners in derde plek.

Hierdie inisiatief van die NG Kerk is nie-winsgewend en vrywilligers werk vir die liefde van die saak. Ná vier jaar is die Swop Shop steeds nie selfonderhoudend nie en Petro Terblanche, wat by die Groen Lewe Projek betrokke is, het gesê dat hulle wel donasies ontvang waarvoor hulle dankbaar is, maar dat dit steeds nie genoeg is om al die onkoste te delg nie.

Donasies soos blikkies kos, mieliemeel, meel, suiker, toiletbenodigdhede en speelgoed is steeds op hulle prioriteitslys.

You need to be Logged In to leave a comment.