NÁ verskeie probleme wat aangemeld is en koerantberigte daaroor, het lede van die Oos-Kaapse departement van gesondheid verlede Sondagmiddag die inwoners van Michausdal ontmoet oor probleme wat hul by die Cradock-hospitaal ondervind.
Volgens N.M. Kizza van die Chris Hani-distriksmunisipaliteit moet Cradock se hospitaalraad talle van die klagtes, soos dat die hospitaal vuil en dat die personeel onvriendelik is, self aanspreek.
Kizza het die raad ook verantwoordelik gehou vir die feit dat die gemeenskap nie ingelig is oor die heffing van fooie van R30 of R80 wat deur buitepasiënte betaal moet word nie.
Kizza het verduidelik dat iemand wat nie deur ’n kliniek na die hospitaal verwys is nie, ’n fooi van R80 moet betaal, teenoor die R30 vir ander pasiënte. Sy het egter gestipuleer dat mense ná 16:30, of op naweke wanneer die klinieke gesluit is, nie die ekstra R50 hoef te betaal nie. Sy het bygevoeg dat indien ’n persoon nie dadelik die nodige fondse het nie, dit opge-skryf moet word vir latere betaling.
By die vergadering is ook ’n klagte geopper oor die feit dat Michausdal, tesame met die ongeveer 3 000 inwoners van die nuwe uitbrei-ding Hillside, slegs deur een kliniek bedien word.
Volgens Kizza gaan die departement – weens ’n gebrek aan fondse – nie in die onmiddelike toekoms enige nuwe klinieke bou nie.
Oor ’n klagte dat ’n telefoonnommer in Komani (Queenstown) deesdae gebel moet word om ’n Cradock ambulans te ontbied, het M. Dakuse, bestuurder van ambulansdienste, gesê hulle vertrou dat hierdie nuwe reëling beter as die huidige een sal werk.
Hy het verduidelik dat Cradock slegs twee ambulanse het wat ook plase in die distrik moet bedien. “Mense moet net geduldig wees want om ’n nuwe ambulans te koop of een te herstel, is ’n lang proses,” het hy gesê.
Hy het voorts gesê dat inwoners van die gebied baie maal ambulanse, en ook die bussie wat pasiënte na Port Elizabeth vervoer, misbruik.
M. Dimasa, hoof van finansies in die gebied, het gesê die gebrek aan dokters by Cradock-hospitaal kan nie net daaraan toegeskryf word dat jong dokters nie na die landelike gebied wil kom nie, maar ook omdat pasiënte baie maal nie die dokters met respek behandel nie.