DIE aantal vrektes van kleinvee weens die onverwagte skielike koue aan die einde van Oktober en begin November verlede jaar in die Oos-Kaap word op sowat 30 000 geraam.
Hierdie vrektes, wat baie meer was as wat aanvanklik vermoed is, gaan ’n groot impak hê op die wolproduksie van 2017/18, asook die daaropvolgende jare, het HB van der Walt, voorsitter van die nasionale wolkwekersvereniging in die Oos-Kaap, verlede Donderdag op die jaarvergadering van die vereniging in Queenstown gesê.
Volgens Van der Walt was die afgelope jaar gekenmerk deur die strawwe droogte, met groot dele van die Oos-kaap wat nog geen reën ontvang het nie. “Die westelike deel van ons provinsie is steeds geweldig droog.
“Ons dagbestuur het dit gevolglik goedgedink om R60 000 aan Agri Oos-Kaap te betaal, wat dit aan die boere in hierdie gebied kan oorbetaal vir die vervoer van hulle broodnodige veevoer.”
Hy het voorts gesê die noordelike en oostelike dele van die Oos-Kaap het egter vanaf laat Desember goeie reëns ontvang en het hulle produksie-omstandighede baie verbeter.
“Die wolmark het opwaarts beweeg ten spyte daarvan dat die Rand baie versterk het teen die Dollar. Wol verhandel tans tussen R190 en R210 per kilogram vir skoonwol. Die aanvraag vir kwaliteit wol is steeds hoog.
“Ons as wolboere moet toesien dat ons dit produseeer en verseker dat ons skeertyd in die skeerhok is om te verseker ons klasstandaarde word gehandhaaf, of verbeter,” aldus Van der Walt.
Hy het bygevoeg dat wolproduksie gestyg het tot 1 815 827kg, wat ongeveer 34% van die RSA se wolproduksie verteenwoordig. Die kommunale boere het sowat 4,8 miljoen kg tot hierdie totaal bygedra.
“Die droogte tans, tesame met die verliese wat gely is as gevolg van die kouefronte, gaan egter ’n erge negatiewe impak hê op die 2017/18 seisoen en produksie gaan verseker baie laer wees as verlede jaar.
“Daar is tans 1 195 aktiewe kommunale wolskure wat wol in die 2016/17 seisoen gelewer het. Hiervan is ongeveer 944 in die voormalige Transkei en Ciskei gebiede. Dit word beraam dat die aantal kleinskaal produsente in hierdie gebiede tans sowat 40 000 beloop,” het hy gesê.
“Ten spyte van die onweerswolke op die horison – grondhervorming, droogtes en sty-gende insetkostes – is ek steeds positief oor die toekoms van die wolprodusent,” het Van der Walt bygevoeg.