MET slegs twee verslete skoen-tjies as aandenking in haar hande, het ’n gebroke moeder verlede Woensdagmiddag by haar kindjie se lewelose liggaam langs die R67 digby die Queenstown en Fort Beaufort aansluiting gestaan.
Met Mid-Karoo Express se aankoms was die polisie besig om die ongelukstoneel af te sper. Die 7-jarige Mondre Kroutz is reg langs sy skool deur ’n wit Audi raakgery toe hy probeer het om kort ná sy twee vriende die pad oor te steek.
Hy is teen een van die chevronpaaltjies op die rand van die pad geslinger en het etlike minute later gesterf.
Die getraumatiseerde vrou wat die betrokke motor bestuur het, het op die toneel aan Mid-Karoo Express vertel hoe sy vergeefs probeer het om vir die kindjie uit te swaai, maar dat sy weens aankomende verkeer beperkte spasie gehad het.
“My hart is stukkend. Hy is dieselfde ouderdom as my eie seuntjie en het so baie ooreenstemmende eienskappe,” het sy snikkend gesê.
Mid-Karoo Express is die afgelope Saterdag deur ’n somber atmosfeer by die woning in Calendulastraat in die Newtownwoonbuurt, waar die kleuter se ma tans tuis is, begroet.
Michelle Kroutz (38) het vertel hoe sy nog Woensdag ná skool vir haar kind gesê het om sy skoolklere uit te trek en te gaan speel.
Sy het by ’n vriendin gesit toe sy omstreeks 15:30 die tyding kry.
“’n Kind het my kom roep en gesê dat Mondre in die teerpad raakgery is. My hart het onmiddellik tot in my skoene gesak.”
Kroutz het kort-kort onbedaarlik begin huil en familielede moes haar kalmeer.
“My kind was stilstout en het altyd nuwe vriende gemaak,” het sy gesê.
Kroutz sê dat hoewel sy gebroke en geruk is deur haar seun se heengaan, hoop sy dat dit ’n les vir ander ouers sal wees.
“Hou jul kinders ten alle tye onder jul oë en luister en kyk na hul begeertes,” het sy gesê.
Antoinette Snayers, klasonderwyseres van Mondre by St. Joseph’s (R.K) Primêre Skool waar hy in gr. 2 was, het hom beskryf as ’n baie rustige seun-tjie wat altyd sy maatjies stories vertel en self lekker daaroor gegiggel het.
“Ek het hom ‘Boertjie’ genoem en sal sy breë glimlag baie mis,” het Snayers gesê.
Mondre word vandag vanuit die AGS-kerk op Fort Beaufort ter ruste gelê.