Kliplikkewaan maak vir homself ’n naam op Facebook

’n KLIPLIKKEWAAN met ’n aardige humeur het oornag ’n ster geword nadat ’n video van hom op sosiale media versprei is. Daar was teen druktyd van Mid-Karoo Express al meer as 4 100 keer na die video gekyk.


’n KLIPLIKKEWAAN met ’n aardige humeur het oornag ’n ster geword nadat ’n video van hom op sosiale media versprei is. Daar was teen druktyd van Mid-Karoo Express al meer as 4 100 keer na die video gekyk.

Ina Botha, wat saam met haar man Francois op hul plaas in die Sneeuberge boer, het die likkewaan teegekom op ’n plaaspad buite Jansenville, en wou van naderby kennis maak.

“Die likkewaan was nie ewe geinteresseerd daarin om my beter te leer ken nie, en het nie geskroom om sy misnoeë te kenne te gee nie.”

Op die video kan gesien word hoe die kliplikkewaan sy toeskouer probeer intimideer deur homself op te pof en hoër op sy pote te staan, en dan weer met ’n groot geraas af te blaas en te sak. Hy het selfs doodstil gaan lê en voorgegee dat hy uitgeteer en dood is.

Die Kliplikkewaan is lid van die wetenskaplike klas Reptilia, met spesienaam Varanus Albigularis, en kom algemeen in die Groot Karoo voor.

’n Uitgegroeide mannetjie weeg 6kg tot 8kg, maar kan tot ’n allemintige 17kg weeg. Sy stert is effens langer as sy lyf, en sy totale lengte is gewoonlik 1 tot 1.5m, maar knewels so lank as 2m is al aangeteken.

Die lang, gesplete tong is ’n sensoriese orgaan waarmee prooi “geruik” word.

Kliplikkewane se dieet bestaan uit insekte, akkedisse, paddas, eiers, voëltjies en karkasse van dooie diere. Die wyfie lê 10 tot 40 eiers in ’n vlakkerige gat of binne-in ’n termiethoop. Die pasgebore kleintjies is dadelik selfversorgend, wat hulle kwesbaar maak vir hul natuurlike vyande, soos ratels en roofvoels.

In die verlede het verskeie plaaslike mites oor likkewane bestaan, soos dat hulle vriende is met die tokkelossie. Likkewane het glo ook rondgegaan en slanggif versamel, sodat hul eie byt al hoe giftiger sou word.

Toordokters gebruik soms dele van die likkewaan in hul muti’s, en in Uganda het likkewaangetalle ernstig afgeneem nadat daar begin glo is dat likkewaanbloed vigs kan genees of HIV positiewe status kan omkeer.

Meeste mense weet dat ’n likkewaanstert ’n seer sweephou kan swiep, maar sy byt is inderwaarheid veel gevaarliker. Nie net het ’n likkewaan kragtige kake wat baie seer en stewig vasbyt nie – die speeksel bevat boonop baie bakte- rieë.

Likkewaanbytwonde by mense en honde moet met ’n antiseptiese middel ontsmet word en antibiotiese behandeling moet sterk oorweeg word.

Gelukkig is likkewane menssku en sal eerder kwaad-kwaad probeer padgee of voorgee om dood te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.