So lyk die mes wat by die voordeur se boomstam weggesteek was.


IN die afgelope paar weke het voornemende inbrekers ’n paar keer op huise in Somerset-Oos probeer toe-slaan.

Daar is by ’n hele aantal huise gepoog om in te breek, met inbrekers wat telkemale met leë hande weggekom het.

By een huis het hulle ’n paar keer ná mekaar probeer inbreek – selfs in die nag toe die eienaar in die huis was.

Hulle het wel op ’n keer daarin ge-slaag om die eienaar se beursie met kaarte en geld met ’n lang draadhaak van die kombuistafel af te hark en deur die diefwering na hulle te trek.

Dít nadat hulle die deur se haak en slot probeer uitbreek het.

Die beursie is in die agtertuin gevind, maar minus die geld en kaarte.

Daar is onder meer ook ’n bakkie by ’n ander inwoner gesteel, maar dié is gelukkig teruggevind. Booswigte het ook by ’n paar mense se motorhuise probeer inbreek.

’n Ander inwoner, Marlene Erasmus, het amper ook die slagoffer geword van diewe.

Toe sy onlangs ná ’n daguitstappie van Port Elizabeth by haar woonstel aankom, het sy onmiddellik onraad vermoed toe sy sien dat haar tuintjie baie mooi skoon gemaak is – sonder haar medewete. Toe sy aan die voordeur se deurknop vat, het sy besef daar is fout. Sy het ingestap en gesien dat ’n inbreker die kamervenster se diefwering probeer wegbuig het.

Later is ’n ysterpyp, wat in een van haar potplantpotte gedruk is, asook ’n mes wat in die boom by die voordeur se stam ingesteek is, ontdek.

Die volgende dag het die “tuinwerker” opgedaag vir sy beloning. Sy het hom herken as ’n jong man wat een maal ’n week by haar kos vra en vir wie sy kos gegee het.

Die polisie het hom ondervra, maar hy het ontken dat hy enigsins kennis dra van iemand wat by die woonstel was toe hy die tuin skoongemaak het.

You need to be Logged In to leave a comment.